Van kleintyd af droom die Hoërskool Kathu se Dihan “Gogga” Janse van Rensburg (14) daarvan om sy land as Springbok of Protea te verteenwoordig.
Dié gr. 8-leerling se Springbokdrome het op die jong ouderdom van vier jaar begin toe hy Welpie-rugby by sy kleuterskool in die Wesrand, Gauteng, begin speel het.
In 2018, as gr. 6-leerling aan die Laerskool Kathu, het hy dadelik sy staal op die rugbyveld getoon en hy is daardie jaar en in 2019 in die Van Druten-rugbyspan as losskakel ingesluit.
Noudat hy nie meer ’n klein kaalvoetspeler is nie, draf hy vir sy hoërskoolrugbyspan as skrumskakel uit.
Hy is verlede jaar ook gekies om aan die Bokkieweek deel te neem.
Hoewel hy van kleintyd af groot rugbydrome gehad het, blink hy ook op die krieketveld uit en het oor die jare ’n liefde vir dié sport ontwikkel.
Sy rolmodel is Virat Kohli, die kaptein van Indië se krieketspan.
Dihan is in 2019 in Kathu se junior krieketspan ingesluit en het sy dorp in ’n toernooi in Mosselbaai verteenwordig.
Verlede jaar is hy ook in die John Taolo Gaetsewe- (JTG) krieketspan as aanvangskolwer en draaibouler ingesluit.
Dihan se gunsteling-kos is braaivleis en hy sê glad nie nee vir sy ma se eie melktertgebak nie.
Hy is lief vir die natuur en sy stokperdjies is jag en visvang. Hy geniet dit om saam met sy familie langs die viswaters te ontspan.
Dihan is die seun van Mannetjie en Michelle Janse van Rensburg.