Staan opsy, Gary Kasparov en Magnus Carlsen.
’n Belowende 15-jarige skaakspeler van die Diamantstad is besig om vinnige opgang in die skaakwêreld te maak.
Zoë Milford, ’n gr. 10-leerling aan die Hoërskool Noord-Kaap, het in Desember binne slegs nege rondes ’n derde plek in Afrika in haar ouderdomsgroep (meisies o.15 tot o.17) tydens die Afrika- individuele skaakkampioenskap vir skole behaal.
Dié kompetisie is van 5 tot 13 Desember by die Euphoria-gholf- en leefstyllandgoed in Mookgophong (voorheen bekend as Naboomspruit) in Limpopo gehou.
- Die geleentheid is deur Suid-Afrika aangebied, en is deur die beste skaakspelers van ander Afrikalande soos Angola, Namibië, Botswana en Zambië bygewoon.
Op grond van haar vertoning is Zoë met die titel van vroue-kandidaatmeester, ’n gesogte titel wat deur die Wêreld-skaakfederasie (FIDE) toegeken word, vereer. Sy is ook te danke aan haar vertoning gekies om haar land by die Wêreld- individuele skaakkampioenskapsbyeenkoms vir skole, wat van 21 tot 30 April in Sousse in Tunisië plaasvind, te verteenwoordig.
Om hierdie prestasie te kroon, het Zoë boonop in die Desembervakansie as deel van die Noord-Kaapse o.16-skaakspan in die Suid-Afrikaanse junior skaakkampioenskapsbyeenkoms deelgeneem waar sy goud gewen het.
Die span waarvan sy deel was, is ook die enigste span van die Noord-Kaap wat daarin kon slaag om ’n derde plek op die byeenkoms te behaal.
Dié geleentheid het van 15 tot 24 Desember by die Birchwood-hotel en -konferensiesentrum in die Oos-Rand plaasgevind.
Zoë sê sy wil van 16 tot 23 Maart aan die Suid-Afrikaanse junior geslote skaakbyeenkoms by die Kopanong-hotel en -konferensiesentrum in Benoni deelneem, waar sy hoop om vir die Suid-Afrikaanse span te kwalifiseer wat die land by kontinentale en internasionale kompetisies sal verteenwoordig. Vanweë haar besonderse skaakprestasies is Zoë verlede jaar as die Noord-Kaapse departement van sport, kuns en kultuur se sportvrou van die jaar gekroon. Sy is tans die nommereen-skaakspeler in haar ouderdomsgroep in die Noord-Kaap.
Zoë het glo reeds op sesjarige ouderdom by haar ma en pa leer skaak speel, en neem sedert gr. 2 aan skaakkompetisies deel.
Buiten haar prestasies op die skaakbord is Zoë ook ’n kranige netbalspeler wat al provinsiale kleure in dié sport, asook in swem en tweekamp, behaal het. Sy het verlede jaar ’n derde plek in die ATKV se nasionale redenaarskompetisie behaal.