’n Jong binnesenter aan Curro Kathu is vasbeslote om sy droom te verwesenlik en eendag ’n Springbok te word.
Die eerste keer toe Lance Louw (13) vir die Laerskool Lime Acres se o.9-rugbyspan uitgedraf het, het hy geweet hy hoort op die rugbyveld.
Daarna was daar geen keer aan hom nie.
Hy is ’n veelsydige speler en kan van ’n haker na ’n agsteman oorskakel.
Lance sê die Bok-kaptein, Siya Kolisi, is sy rolmodel en hy wil in sy voetspore volg om eendag in die Groen en Goud uit te draf en sy land trots te maak.
In 2019 het Lance die Van Drutenspan gehaal.
Hy het ook die Griekwa-o.12-span tydens die Bondeweek in Bloemfontein verteenwoordig, asook die provinsiale o.12-rugbyweek in Klerksdorp.
Hoewel hy ’n hoërskoolleerling is, draf hy tans as ’n binnesenter vir die o.13-Curro-span uit.
Lance bly in ’n koshuis in Kathu, waar hulle ses rugbyseuns is.
Hy sê dit is vir hom lekker om deel van dié groep seuns te wees.
Hy sê om sy droom te bewaarheid moet hy sy liggaam fiks hou, daarom is hy sportief en neem aan alles moontlik deel.
Verlede jaar is hy as die Laerskool Lime Acres se sportman van die jaar aangewys.
Vanjaar het hy tydens sy skool se kleure-atletiekbyeenkoms aan gewigstoot en die 100 m-wedloop deelgeneem.
Hy sê hoewel atletiek nie sy sterk punt is nie, glo hy dat ’n gesonde liggaam ’n gesonde brein huisves en daarom is hy glad nie huiwerig om aan enige oefeninge deel te neem nie.
Lance hou ook van krieket speel.
Naweke luister hy na musiek en kyk rugbywedstryde. Hy kuier graag saam met sy vriende.
Hy bak ook en toets graag nuwe resepte.
Lance Louw is die middelste seun van Hannes en Elvira Louw. Sy broers, Juelle, en Gareth hou ook van rugby.