’n Belowende netbalspeler van die Hoërskool Upington blink al jare lank op die netbalbaan uit.
Di-Marie Visser, Uppies se netbalkaptein, smag daarna om vir oulaas in oranje op die baan uit te draf.
Sy het as groentjie begin uitsien om in haar matriekjaar op die Groot Interjol, die jaarlikse derby tussen die Hoërskool Upington en die Hoërskool Duineveld, te wys dat Uppies op die netbalbaan koning kraai.
Dié droom is egter gekniehalter deur die Covid-19-pandemie en die onderwysdepartement se besluit om alle sportbyeenkomste vir die res van die jaar af te las.
“Dit is natuurlik vir my baie sleg om te weet dat ek dalk nie weer in my oranje rokkie kan speel nie,” sê sy.
“Ek het baie hoop vir ons span gehad. Ons het groot drome vir die jaar gehad.”
Sedert haar laerskooldae ding sy op provinsiale vlak in netbal mee, en in 2017 is sy as Uppies se beste o.16-speler en belowendste netbalspeler aangewys.
Van haar hoogtepunte op die netbalbaan is toe die span in 2018 tydens die Sun City-netbaltoernooi met sewe seges gespog het, en in 2017 ’n spoggerige eerste plek in die Noord-Kaap behaal het.
Di-Marie sê haar beste herinneringe op die netbalbaan is die lag, sweet, hartseer en bakleiery wat saam met die spel en haar spanmaats kom.
Sy sê by die Hoërskool Upington word hulle geleer dat jy die beste van ’n slegte situasie moet maak.
“Soos die Engelse gesegde lui: ‘If life gives you lemons, make lemonade’, ” sê sy.
Vir die res van die jaar gaan sy op haar akademie fokus. Sy hoop om haarself volgende jaar in fisioterapie te begin bekwaam.