Spanwerk ’n wenresep

Met die ouers se samewerking en onderwysers wat huisbesoek gedoen het, kon die Emmanuel Sekondêre Skool in Homevale, Kimberley, in die onlangse nasionale seniorsertifikaateksamen sy slaagsyfer met 56,6% verbeter. Die skool spog nou met ’n slaagsyfer


Met die ouers se samewerking en onderwysers wat huisbesoek gedoen het, kon die Emmanuel Sekondêre Skool in Homevale, Kimberley, in die onlangse nasionale seniorsertifikaateksamen sy slaagsyfer met 56,6% verbeter. Die skool spog nou met ’n slaagsyfer van 73,3%.

Sebesteian Luke van Rooyen, skoolhoof, het Vrydag (21/01) gestraal toe hy by die prysuitdeling van die Noord-Kaapse departement van onderwys die oorkonde in ontvangs neem vir die skool wat die meeste verbeter het.

Van Rooyen sê die skool, wat eers net leerlinge tot gr. 9 gehuisves het, het in 2019 sy eerste matrieks gehad. Die skool se eerste matriekslaagsyfers van 32% en 13% was teleurstellend.

“Dit was pyn en lyding. Van die leerlinge kom uit enkelouergesinne wat onder die broodlyn leef,” sê hy.

“Die probleem was dat die vakkeuses beperk was en baie op wiskunde en wetenskap gerig was. Die kinders het daarmee gesukkel. Op my en die ouers se aandrang het die departement gehelp om vakkeuses uit te brei sodat dit ook toerisme insluit. Dit het ook gehelp om die slaagsyfer te verbeter.

“Die grootste deurslag was dat ouers verlede jaar besluit het om by hul kinders se opvoeding betrokke te raak. Matriek­onderwysers het elkeen ’n leerling ‘aangeneem’ en hom of haar in alle fasette van sy of haar lewe bygestaan. Hulle het ook huisbesoeke gedoen. Dit was maklik omdat daar net 47 matriekleerlinge was.

“Vanjaar het ons 150 matrieks, wat beteken onderwysers sal elk meer kinders moet ondersteun.

“Die gr. 12-leerlinge het ook soggens vroeër as die ander leerlinge skool begin, en ’n periode gehad waarin hersiening van vakke soos wiskunde, geografie of fisiese wetenskap gedoen is. Hulle het Saterdae en Sondae klas geloop. Die departement het ons bygestaan deur lente- en winterskool en leerkampe aan te bied.”

Van Rooyen sê hy wil elkeen bedank wat ’n rol gespeel het om die slaagsyfer te verbeter.

Die skool het in 1988 in asbesgeboue begin, maar in 2015 is die skool oorgebou. Van Rooyen hou sedert 2009 die leisels as skoolhoof vas.

Hy hou vandeesweek sy eerste vergadering met vanjaar se gr. 12-leerlinge en hul ouers om die vereistes te verduidelik sodat leerlinge akademies kan presteer.

“Die volgende mikpunt is om ’n slaagsyfer van 80% te behaal.”

You need to be Logged In to leave a comment.