’n Man van De Aar is op Vrydag 15 Maart tot 66 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy op 13 aanklagte van seksuele misdade teen minderjarige seuns skuldig bevind is.
Coert Botha (47) het die dade tussen September 2019 en April 2021 gepleeg, sê sers. Timothy Sam, polisiewoordvoerder.
In die saak teen Botha het die hof gehoor dat hy jong seuns van die ouderdom van nege tot 14 jaar na sy huis gelok het en seksuele dade, wat verkragting insluit, gepleeg het.
Sam sê die polisie se ondersoeke het daartoe gelei dat nog slagoffers gevind is. Botha se vonnisse sal gelyklopend uitgedien word, en sy naam op die nasionale register vir seksuele oortreders aangebring word.
Lt genl. Koliswa Otola, provinsiale polisiekommissaris, het speursers. Ilse Fan, ondersoekbeampte, en adv. Tevaughnay van Wyk, die staatsaanklaer, vir hul deeglike ondersoekwerk geprys.
Botha is die derde man wat sedert Februarie in die streekhof in De Aar weens seksuele misdrywe teen kinders gevonnis is.
John Henry Meiring (45) van De Aar is op 14 Februarie tot agt jaar tronkstraf gevonnis nadat hy in besit van 773 pornografiese foto’s van kinders betrap is.
Nog ’n man (57) van Philipstown is op 20 Februarie tot 120 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy verskeie kinders van die dorp molesteer het. Sy naam word weerhou om van sy slagoffers te identiteit te beskerm.


