Tydens die laaste uitreikveldtog vir vanjaar het die Walk-by-Faith-sopkombuis, geleë in Mahala-park in Kimberley, ’n groot verskil in talle mense se lewe gemaak.
Gregory Taylor, stigter en voorsitter van die nie-winsgewende organisasie, vertel dat hulle op 25 November tussen 185 en 205 mense van Ivorypark in Roodepan gevoed het, asook klere en skoene uitgedeel het. Toiletware is aan 50 jeudiges uitgedeel en kospakkies aan sewe behoeftige gesinne.
Die sopkombuis is reeds die afgelope vier jaar bedrywig en is vanjaar as ’n niewinsgewende organisasie geregistreer.
Vir die laaste uitreikveldtog vir die jaar het hulle ondersteuning en skenkings van Ackermans in Kimberley se sentrale sakekern ontvang, en ook van familie en vriende.
“Die skenkings van Ackermans was vir ons ’n groot deurbraak omdat dit die eerste vanaf ’n besigheid was,” sê Taylor.
Vir die veldtog het onder andere past. Olive Miller en Judy Pinetown gehelp om hulpbehoewendes te identifiseer, en polisielede van Roodepan was betrokke. In hul uitreikbedrywighede word aspekte soos gesinsgeweld, tienerswangerskap, en die misbruik van dwelms en drank ook aangespreek.
Taylor bedank almal wat hulle met skenkings ondersteun, en sê Walk-by-Faith sien daarna uit om in 2023 ’n groter invloed op mense se omstandighede te hê. Om skenkings te doen of navrae te rig skakel 062-956-4034 of 060-350-6658.


