Bykans 190 mense van Freedom Park in Rietvale, Ritchie, het by die uitreikveldtog van die Walk-by-Faith-sopkombuis van Santa Centre, Kimberley, gebaat.
Dit was die eerste keer dat dié niewinsgewende organisasie op so ’n manier na ’n gemeenskap buite Kimberley uitgereik het, en ondanks die reën wat op Saterdag 28 September geval het, was dit ’n reuse-sukses, sê Gregory Taylor.
“Ons het reeds vyf veldtogte in Kimberley gehad, en sien uit om meer plekke en mense te bereik en te help. Ons het een en elk met ’n bord kos bedien, tien kospakkies is aan bejaardes gegee, 30 pakkies met toiletware aan jongmense, 64 pakkies met lekkergoed aan die kinders, en 12 paar skoolskoene, 28 sakke klere, ander skoene en gordyne is ook oorhandig.”
Die sopkombuis maak op skenkings van vriende, kollegas, lede van die publiek en besighede staat. Skenkings van klere en skoene is van Jet Stores Kimberley ontvang, en Gas and More het gas vir die voedselbereiding geskenk.
Taylor bedank die gemeenskap van Freedom Park; Vanessa Pete, vir die ontvangs; asook die onderwysers wat teenwoordig was. Die besighede wat skenkings gedoen het, word bedank, asook Yolandi du Toit, wat as ’n vrywilliger optree.
“Ons poog en vertrou om meer in die toekoms te kan doen,” sê Taylor.
Mense of besighede wat betrokke wil raak, of skenkings vir verdere uitreikveldtogte wil doen, kan 060-350-6658 of 073-402-1487 skakel.


