Sopa: Ware toestand erger as Ripley’s, sê party

Die provinsiale rede van die premier van die Noord-Kaap, dr. Zamani Saul, het opposisiepartye nie veel beïndruk nie.


Die provinsiale rede van die premier van die Noord-Kaap, dr. Zamani Saul, het opposisiepartye nie veel beïndruk nie.

Die DA het in hul reaksie eerder die werklike “swak” toestand van die provinsie beskryf as om die inhoud van Saul se toespraak te ontleed.

Danie Coetzee, VF Plus-LPW, het dit betreur dat daar oor die landbousektor geswyg is. Hy sê die premier het voedselsekerheid beklemtoon, maar min aandag aan die grondslag daarvan gegee.

“Die sektor gaan onder onsekerheid gebuk weens populistiese uitsprake oor grondbesit. In ’n subtiele weerspreking van pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede, het Saul sterk klem gelê op die rol van die staat om werk te skep. Saul verwys met trots na dalende werkloosheid in die provinsie, maar die standaard waarteen hy dit meet, is so swak dat beperkte waarde daaraan geheg moet word,” sê Coetzee.

“Ons ondersteun die klem op jeugopleiding. Hy beplan dat meer funksies wat uitgekontrakteer word, deur die provinsie oorgeneem word. Waardetoevoeging van mynbouprodukte en industrialisering van die provinsie is beklemtoon.

“Die samewerking tussen die Noord-Kaap, Namibië en Botswana deur spesiale ekonomiese sones sluit aan by die ontwikkeling van die diepsee-hawe by Boegoebaai en spoorweg-ontwikkeling, asook die Noord-Kaapse waterstofstrategie. Ons ondersteun dit op voorwaarde dat dit nie in die moeras van korrupsie en swak bestuur vasval nie. Die vraag is of transformasie en swart eko­nomiese bemagtiging belang­riker as doeltreffende uit­voering gereken gaan word.”

Saul se planne om die provinsiale gesondheid- en onderwysstelsel omvattend te moderniseer, kan ’n leemte vul, mits die uitvoering daarvan doeltreffend is.

“Saul wat groot gewag gemaak het van die provinsie se steun aan die Hungry Lions-sokkerspan, het glad nie die Griekwas genoem of hulle met hul onlangse prestasies geluk gewens nie.”

In sy reaksie sê Harold McGluwa, DA-leier in die Noord-Kaap, dat die provinsie aan skerwe lê.

“Geen towerstaf of spoggerige plan kan dit vinnig regruk nie. Die ware toestand van die provinsie is erger as ’n episode van Ripley’s Believe it or not.”

Van die punte wat McGluwa noem, is: Net een in 25 polisievoertuie in Jan Kempdorp is in werkende toestand; skurke slaan daagliks met dieselfde werkswyse op die taxi­staanplek in Kuruman toe; die riooldam buite Kimberley het sedert 2016 vergroot en bedreig ’n hoof- ekonomiese roete; die besteding van R500 miljoen om die infrastruktuur van die Sol Plaatje-munisipaliteit te verbeter het min resultate gelewer, en slaggate gedy van Kimberley tot Kakamas en verder; daar het niks van Saul se belofte gekom dat hy nie sal toelaat dat Kimberley verder verwaarloos nie; sommige dorpe verloor 60% van hul water weens lek­plekke terwyl ander dorpe 14 dae sonder watertoevoer is; en operasies word by die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal uitgestel weens foutiewe hysbakke.

McGluwa sê mense is so gewoond aan swak diens dat niks hulle meer skok nie.

“Dit is die gevolg van toksiese kaderontplooiing en korrupsie.”

Die EFF het teen druktyd nog nie kommentaar op die toespraak gelewer nie.

You need to be Logged In to leave a comment.