Sopa: Premier verskerp visie

Tydens die lewering van sy provinsiale rede was dit deurgaans duidelik dat dr. Zamani Saul, premier van die Noord-Kaap, nog nie van sy visie van ’n moderne, groeiende en suksesvolle provinsie afgesien het nie. Dié visie het hy reeds in 2019 geuiter.


Tydens die lewering van sy provinsiale rede was dit deurgaans duidelik dat dr. Zamani Saul, premier van die Noord-Kaap, nog nie van sy visie van ’n moderne, groeiende en suksesvolle provinsie afgesien het nie. Dié visie het hy reeds in 2019 geuiter.

Terwyl gaste gereeld sweet afgevee en hulself koel gewaai het, het Saul Donderdag (24/02) sy provinsiale rede uit ’n markiestent by die Mxolisi Dicky Jacobs-stadion in Upington gelewer.

Volgens Saul, wat die eerste deel van sy verwelkoming in Afrikaans gedoen het, was dit ’n gesukkel om ’n geskikte vergaderplek vir so ’n groot geleentheid in dié tweede grootste dorp in die Noord-Kaap te kry. Die moontlikheid om so ’n gerief hier te skep moet ondersoek word, het hy genoem.

Met sy aankoms in Upington is Saul en sy gevolg Woensdag deur ’n groep jeugdiges van die Progressive Youth Alliance ingewag. Hulle het aan hom ’n memorandum oorhandig, waarin talle klagtes glo verwoord is. Onder meer die hoë werkloos­heidsyfer onder jeugdiges en die gebrek aan ekonomiese geleenthede is aangeroer.

“Ons verbind ons aan die jeug van die Noord-Kaap. Daar sal geen rustyd vir ons wees totdat al die uitdagings aangespreek is nie.”
Dr. Zamani Saul

Saul het later ook na die amptelike jeugwerkloosheidsyfer in die land verwys, wat net meer as 37% is.

Goeie vordering is gemaak met die provinsiale makro-organisasie van regering. Dit sluit die vestiging van die nuwe departement van landbou, omgewingsake, landelike ontwikkeling en landhervorming in, asook die jeugdirektoraat en die herstrukturering van die departement van paaie en openbare werke na die departement van paaie en infrastruktuur met die mandaat om infrastruktuurprojekte aan te pak.

“Onderwys kan fokus op die leerling en die onderwyser; om die leerling en die onderwyser in die klas te kry. Gesondheid hoef nie meer oor infrastruktuur te bekommer nie. Dit is nou die werk van die departement van infrastruktuur,” sê Saul.

Saul sê die Noord-Kaap is besig om ’n uitvoer- en vervaardigingskorridor in werking te stel om die provinsie met ander – en ook met Namibië en Botswana – te koppel. Die Western SADC Export and Manufacturing Corridor sal teenwoordigheid in Kathu, Upington en Aggeneys hê. Altesaam R32 miljoen is goedgekeur ter voorbereiding van die verbetering van die Vaalharts-Taung-besproeiing­skema.

Om te help verseker dat ’n mandaat van die Nasionale Ontwikkelingsplan uitgevoer word, sal belangrike en strategiese geboue, instellings en strate hernoem word. Die Kimberley- en Upington-lughawe, asook die nuutgeboude Greenpoint-biblioteek in Kimberley – wat glo eersdaags geopen sal word – sal van die eerstes wees om herbenoem te word.

Die provinsiale regering gaan weer kulturele toerisme en feeste ondersteun, insluitend die Northern Cape Awards, Kgalagadi Jazz-fees en die Kalahari Desert-fees.

Die totstandkoming van ’n sokkerspan vir die Premier-sokkerliga is nog ’n hoofdoelwit, en die provinsiale regering wil ondersteuning van grondvlak in sportontwikkeling verskaf. Geldelike ondersteuning word reeds gegee aan die Hungry Lions van Postmasburg, wat in die land se tweede hoogste liga meeding, en aan die Richmond Ladies, in die nasionale vroueliga.

Talle het Saul se toespraak op Facebook gevolg. In die kommentaar is die premier en die provinsiale regering geprys, maar menings dat die toespraak net leë beloftes is wat voorheen gehoor is, is ook gemaak.

Lees ook die aanvullende berigte oor die provinsiale rede (Sopa).

Ouma Katrina Esau (89) van Upington, die laaste spreker ter wêreld van die San-taal, N/uu, het die lewering van die provinsiale rede bygewoon.

You need to be Logged In to leave a comment.