Dr. Zamani Saul, premier van die Noord-Kaap, het in sy vierde provinsiale rede Donderdag (24/02) in Upington die soveelste keer oor sy planne vir ’n moderne, groeiende provinsie gepraat terwyl opposisiepartye van sy voornemens geprys het.
Die strategie wat Saul wil volg, behels ’n geïntegreerde staatsdiens, provinsiale groei en ontwikkeling, asook ’n ruimtelike ontwikkelingsraamwerk.
Hy het geen melding gemaak van die Openbare Beskermer se onlangse besoek en haar vermaning dat hy binne twee weke ’n regrukplan oor die massiewe riooldam buite Kimberley wat die R31-pad bedreig, moet indien nie.
Hy het in sy toespraak erken dat Kimberley en ander dorpe skoongemaak moet word: “Ons moet ons dorpe aantreklik maak en dienslewering verbeter.”
Die premier het verwys na die R500 miljoen wat hy in 2021 beskikbaar gestel het om infrastruktuur op te knap. Volgens hom is 755 lekplekke in Kimberley reggemaak, 80 groot rioolverstoppings opgeklaar, 1 242 straatligte herstel, slaggate in 187 strate herstel en vullisstorting op 10 plekke opgeruim.
Oor die ouditverslae vir die 2020-’21-boekjaar is Saul trots dat drie distriksmunisipaliteite en drie regeringsdepartemente skoon ouditverslae gekry het. Hy sê tien munisipaliteite word nou geteiken om skoon ouditverslae vir die volgende boekjaar te kry.
“Ons werk saam met die spesiale ondersoekeenheid, die Valke, die departement van samewerkende regering en die plaaslike regeringsorganisasie om ’n plaaslikeregering-teenkorrupsie-eenheid op die been te bring.”
Volgens Saul daal die werkloosheidsyfer. Hy het verwys na private projekte soos ’n nuwe sonkragaanleg naby Postmasburg wat werk aan 636 mense verskaf, benewens die klein- en mediumsakeondernemings wat daarby baat.
Infrastruktuur word opgeknap. Nuwe biblioteke word elders gebou waar gratis WiFi-dienste en e-boeke beskikbaar sal wees. Hy wil die Galeshewe-daghospitaal verder opknap om ’n volwaardige hospitaal met ’n nooddienste-eenheid te word.
Die regering gaan sekuriteitsdienste van private maatskappye in fases oorneem. Dit sal ’n bestuursfunksie van die departement van vervoer en veiligheidskakeling word. Altesaam 2 000 sekuriteitswagte word betrek.
Die beplande provinsiale konstruksiemaatskappy word eersdaags bekend gestel, wat in tandem met die departement van paaie sal werk om byvoorbeeld laekostebehuising en paaie te bou. Hier kan jong mense as vakmanne opgelei word.
Die regering het die ou Eskom-gebou in Kimberley gekoop, wat in behuisingseenhede omskep gaan word. ’n Nuwe woonbuurt langs die N12-buite Kimberley word beplan en die Hull-straatbehuisingsprojek gaan vanjaar begin.
Nywerheidsparke in Kathu en Upington moet dienssentrums word waar vervaardiging en dienste gelewer word wat met mynwese, paaie, spoorvervoer, padvervoer en landbou verband hou.
Die premier se visie van ’n moderne groeiende provinsie het ’n hupstoot gekry met Vodacom en MTN wat hul netwerke in die provinsie uitgebrei het. Sowat 13 000 leertablette wat sonder data werk word aan leerlinge uitgedeel.
’n Program is ook begin waarin mense met video-oproepe met maatskaplike werkers kan praat.
Biometriese pasiëntelêers by hospitale en klinieke word beplan, asook digitale verbindings tussen klinieke en hospitale. Dit sluit aan by ’n plan om alle staatsdepartemente digitaal te koppel en kommunikasie met inwoners te verbeter.