In wat die ANC as ’n soomlose oorgang van een regime na ’n ander in die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley beplan het, het Vrydagoggend 29 November in chaos ontaard toe die ANC en die raad se hoofsweep erken het die prosedures by die spesiale raadsvergadering is nie wetlik korrek gevolg nie.
Tydens die raadsvergadering wat nie gekonstitueer was nie, het raadslede op mekaar geskreeu en sommige ANC-raadslede wou die media verbied om foto’s daarvan te neem. Die stad is vir dae sonder ’n speaker, burgemeester en burgemeesterskomitee gelaat.
Deshi Ngxanga, ANC-provinsiale sekretaris, en Mangaliso Matika, ANC-voorsitter in die Frances Baard-streek, het die konsternasie vanuit die galery bekyk waar die stof dik op tafels en stoele gelê het, en dooie kokkerotte op die vloer.
Dié vergadering spruit uit Ngxanga se vroeëre verklaring dat die party weens sy swak vertoning in die afgelope verkiesing sy uitvoerende burgemeester en speaker met meer ervare kaders vervang.
Dit het tydens die vergadering duidelik geword dat Nomazizi Shwababa, speaker, en Kagisho Sonyoni, uitvoerende burgemeester, reeds op 18 November bedank het. Tog het Shwababa op 26 November as “speaker” die raadsvergadering geroep en die sakelys onderteken.
Haar en Sonyoni se ondertekende en dateerde bedankingsbriewe is egter nie vooraf saam met die sakelys aan raadslede uitgestuur nie.
Dokumentasie van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) wat die bedankings en vakatures bevestig, is ook nie saam met die sakelys uitgestuur nie.
Thapelo Matlala, stadsbestuurder, het Vrydag die raadsvergadering gelei, met Shwababa en Sonyoni wat in die raadsaal gesit het.
Matlala het die bedankings van ET Matika en PM Mouers, ANC-raadslede aangekondig, maar vergeet dat raadslede die bedankings moet indien en sekondeer. Raadslede het hom tereg gewys, waarna hy noodgedwonge die items moes herhaal.
Dipuo Peters en Martha Bartlett, uitgevat vir die geleentheid waar hulle verwag het om as onderskeidelik die nuwe speaker en burgemeester verkies te word, is beëdig. Peters sou as die nuwe speaker ’n verkiesing vir die nuwe burgemeester hou.
Net voor dit sou gebeur, het die ACDP-, DA- en EFF-raadslede opgespring en gesê hulle het nie die vorige speaker en burgemeester se bedankingsbriewe vooraf ontvang nie.
Opposisieraadslede het beswaar gemaak dat prosedures ingevolge die Wet op Munisipale Strukture nie gevolg is nie. Elize Niemann en Heinrich Pieterse van die DA, Roddie Loff van die ACDP, asook Poncho Mocwana en Kenneth Kock van die EFF het geëis om Shwababa en Sonyoni se bedankingsbriewe te sien.
Matlala het toegegee en die bedankingsbriewe uitgedeel.
Dit is toe dat opposisieraadslede besef Shwababa wat reeds bedank het, het nie die bevoegdheid gehad om die vergadering te belê of konstitueer nie.
Martin White, ANC-sweep en hoofsweep, het erken die vergadering was onprosedureel.
Isaac Ruiter, ’n ANC-raadslid, het versoek dat hulle steeds voortgaan en ’n waarnemende speaker aanwys.
’n Hewige debat het ontstaan of die vergadering en die besluite, asook die beëdiging van Bartlett en Peters, ongeldig is. Raadslede het op mekaar gegil, terwyl Matlala ook sy stem verhef het om orde te probeer handhaaf.
Die opposisiepartye het uit die raadsaal gestap. Matlala het hardop gewonder of daar ’n kworum is.
Die EFF-raadslede het al singende teruggekeer, waarna oorblywende raadslede besluit het om ’n vergadering vir Dinsdag 3 Desember te roep waarop Santa Johnson van Good as waarnemende speaker sal optree.
Opposisiepartye beplan om dié besluit ook teen te staan weens die onwetlikheid van die raadsvergadering.
Dit is Maandagaand bekend gemaak dat ‘n spesiale raadsvergadering op Donderdag om 10:00 sal plaasvind.


