Sommige hoofpaaie in Galeshewe en Roodepan in Kimberley is
Maandagoggend (26/04) deur ontevrede inwoners met klippe, bome en ander
hindernisse versper terwyl van die betogers in hegtenis geneem en ander glo
deur rubberkoeëls beseer is.
Lt.kol Dimakatso Mooi, polisiewoordvoerder, sê nege mense is
in hegtenis geneem op aanklagte van openbare geweld.
“Die polisie het skokgranate gebruik om ’n groep van sowat
100 mense uiteen te jaag. Die mense het die R31 en paaie in Roodepan met
brandende bande, boomtakke en klippe versper,” sê Mooi.
Die betoging is deel van die inwoners se “blackout” waarin
toegange na en van Kimberley toegemaak word omdat dienskwessies nie opgelos
word nie.
Dit volg op verlede week se twee vergaderings wat ure lank
tussen dr. Zamani Saul, premier, sommige LUR’e en die munisipale bestuur met
leiers van die Verenigde Gemeenskap van die Sol Plaatje-munisipaliteit (UCM)
geduur het.
Die gegriefdes, wat ook die Kimberley Action Group, die
belastingbetalersvereniging en inwoners van etlike woonbuurte insluit, het twee
weke gelede ’n griefskrif aan die premier oorhandig waarin hulle onder meer eis
dat Patrick Mabilo, burgemeester, van sy amp onthef word, die
burgemeesterskomitee ontbind word, en dat Boy Dhluwayo, waarnemende stadsbestuurder,
en Phetole Sithole, waarnemende direkteur van infrastruktuur, met
gekwalifiseerde en bekwame amptenare vervang word.
Saul se reddingsboei van R500 miljoen om infrastruktuur te
herstel, het nie beïndruk nie omdat inwoners die deursigtigheid daarvan
betwyfel. Saul het hierop gesê sy provinsiale taakspan is besig om die
werkskedule saam te stel wat openbaar
gemaak sal word.
“Inwoners moet besef die werk kan nie oornag geskied nie. Ek
versoek die gemeenskap om kalm te bly en die regering te vertrou omdat ons oop
en eerlik is oor die wyse waarop ons noodgevalle hanteer en hoe die herstelwerk
gedoen gaan word.” Volgens Saul is sy belangrikste oogmerk om
diensleweringstandaarde te verbeter en die stad reg te ruk.
Boyce Makodi, een van die gemeenskapsleiers, sê hulle het
geen bevredigende antwoorde in die vergaderings gekry nie, vandaar die
betoging. Die ontevredenes eis steeds dat pres. Cyril Ramaphosa ingryp om
Kimberley reg te ruk.
“Ons optog in Barklyweg na die stadskern was vreedsaam. Die
polisie het onverwags en sonder waarskuwing op ons begin skiet op die hoek van
Pnielweg en Cecil Sussmanstraat. Ons het weggehardloop. Ek weet van een vrou
wat in haar nek deur ’n rubberkoeël getref is. Ander mense is in hegtenis
geneem. Benewens Barklyweg, is die R31 na Barkly-Wes en die R357 na Douglas ’n
kort rukkie toegemaak.”
Hy sê die groep van tot 300 mense wat teen 11:00 weens
polisie-optrede uitmekaar gespat het, het beplan om later weer by die
Shoprite-winkelsentrum in Barklyweg te hergroepeer.
Intussen sê Sello Matsie, munisipale woordvoerder, dat hul
werkers weens vrese oor hul veiligheid nie waterkleppe in Roodepan vir
watertoevoer kan oopdraai nie.
“Ons het die polisie versoek om ons te vergesel. Dit is
kommerwekkend dat paaie in Galeshewe en Roodepan toegemaak is, en ook die
R64-pad na Boshof deur informele delwers.
“Ons versoek gemeenskapslede om nie te betoog nie en ons toe
te laat om die onderhandelinge van verlede week voort te sit. Die
munisipaliteit sou sy planne om diensleweringsprobleme op te los, aan die
gemeenskap voorlê. Ons vra byvoorbaat verskoning dat ons weens die betoging nie
vullisverwydering kan doen nie. Ons benadruk dat ons saam met die provinsiale
owerhede toegewy is om die probleme op te los.”
Makodi sê hul protesaksie spruit uit gereelde
wateronderbrekings, slaggate, vloede en rioollekke.
“Die premier het ’n onbehulpsame houding tydens die
vergaderings gehad. Hy weier om onbevoegte ampsdraers en amptenare te laat
skors. Al wat hy doen is om niksseggende dik verslae met beleide en prosesse na
ons te gooi. Sy beloftes is leeg. Hoewel hy sê amptenare gaan vir die probleme
verantwoordelik gehou word, is geen stappe teen enigiemand gedoen nie.
“Saul se voorstel dat ons die ANC nader om amptenare en
raadslede te vervang, is belaglik. Die regerende party weet wat die gemeenskap
eis en moet self optree. Dit is weens faksiegevegte dat die munisipaliteit
lamgelê word. Kyk net na die tweespalt in die burgemeesterskomitee, wat beteken
geen oorsig word gedoen nie.”
Oor die reddingsboei sê Makodi dat hulle deursigtigheid wil
sien.
“Die vrae oor watter kontrakteurs teen watter bedrae
aangestel gaan word, is nie beantwoord nie. Sy taakspan het byvoorbeeld nog nie
eens ’n opname van die werk gedoen wat op die paaie vereis word nie.”
In sy reaksie sê Saul in ’n verklaring dat die
gemeenskapsleiers nie wou toelaat dat die verslag oor die griewe bespreek word nie.
“Ons sal dit egter steeds aan die
gemeenskap voorlê. My voorneme as premier bly steeds om skoon water aan
gemeenskappe te lewer, rioollekke te herstel, die waterlekke op te klaar en te
verseker alle slaggate word toegemaak.”
Saul het sy verontwaardiging oor die protesaksie en
“onverantwoordelike gedrag” uitgespreek.
“Ons pleit vir geduld en samewerking.
Die gemeenskap moet besef opknapping aan die infrastruktuur kan nie binne ’n
week voltooi word nie. Dit is verregaande dat mense roekelose en vals gerugte
versprei dat die R500 miljoen wat aan die opknapping van die infrastruktuur gegee is,
wanbestee gaan word.
“Die polisie moet teen wetteloosheid optree. Ek vra
verskoning aan die gemeenskap wie se lewens ontwrig is.