Die aankoop van straatligte en ’n elektrifiseringsprojek van onderskeidelik ’n Vrystaatse en Noord-Kaapse munisipaliteit gaan deur die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) ondersoek word.

Proklamasie 162 van 2024, wat deur pres. Cyril Rama­phosa onderteken is, magtig die SOE om ’n elektrifiseringsprojek van die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley en ’n projek oor die “oprigting van 15 hoë masligte” van die Tokologo-munisipaliteit te ondersoek.

Die SOE sal ook ondersoek instel na ongemagtigde, onreëlmatige, vrugtelose en verkwistende uitgawes. Die omvang van die ondersoek sluit in enige onwettige of onbehoorlike gedrag deur departementele amptenare of werknemers, verskaffers of diensverskaffers of enigeen of entiteit wat die belange van die publiek skade berokken het.

Die proklamasie sluit in bewerings van onwettige en onbehoorlike gedrag van 1 April 2015 tot 5 April 2024 (toe die proklamasie publiseer is) en ná hierdie datum wat hiermee verband hou of waar dieselfde mense, entiteite of kontrakte ondersoek word.

Benewens die ondersoek na vermeende wanadmini­strasie, wanpraktyke, korrupsie en bedrog, sal die SOE mislukkings identifiseer en aanbevelings doen om maat­reëls te verbeter om toekomstige verliese te voorkom.

Marietjie Gericke

You need to be Logged In to leave a comment.