Die stadsbestuurder en uitvoerende burgemeester van die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley het Woensdag gesê terwyl die herstelwerk aan die grootmaatwaterinfrastruktuurnetwerk goed op dreef is, wag hulle in spanning op ’n positiewe antwoord van die tesourie om ook die vervalle sanitasie-infrastruktuur op te knap.
Die herstelwerk op die grootmaatwaterinfrastruktuur word gedoen nadat die Nasionale Tesourie R2,5 miljard deur die begrotingsfasiliteit vir infrastruktuur aan die munisipaliteit beskikbaar gemaak het om die verouderde waterinfrastruktuur op te knap.
Volgens Thapelo Matlala, stadsbestuurder en Kagisho Sonyoni, burgemeester is sekere projekte voltooi, maar word nog kontrakteurs aangestel om verdere werk in die volgende paar jaar te verrig
Intussen wag hulle vir ‘n “positiewe antwoord” van die Nasionale Tesourie nadat hulle aansoek gedoen vir geld om ook die sanitasie infrastruktuur op te knap.
Benewens gebreekte pype en onklaar pompstasies, is die twee rioolaanlegte ook wanfunksioneel.
“Benewens dié aansoek by die Tesourie, het ons twee weke gelede by die departement van water en sanitasie aansoek gedoen vir nog R300 miljoen om ingrypings op die sanitasienetwerk te doen. Daarmee tesame het ons ook aansoek by die departement van vervoer gedoen vir R200 miljoen om ons padnetwerk op te knap. Ek glo ons het deeglike motiverings ingedien,” sê Matlala.
Sonyoni sê die opknapping van die grootmaatwaterinfrastruktuur is goed op dreef. “Sedert die laaste wateronderbreking in April vanjaar waarin ons baie herstelwerk gedoen het, was daar geen nagtelike watertoevoer onderbrekings nie. Die waterdruk en gehalte het geweldig verbeter,” sê hy.
Die waterverliese by die Riverton-watersuiweringsaanleg het van 37% na 15% afgeneem. Al vier die opgaardamme by die Newton-aanleg is 100% vol. Ses projekte van R157 miljoen is reeds aan kontrakteurs toegeken en ses groot waterlekke is herstel. Nuwe meters asook stelsels om die gehalte en vloei te meet en instrumente om chemiese dosering te beheer is in diens gestel. Stelsels om die waterdruk en vloei te beheer is in werking, en opknapping word gedoen aan Riverton se grootmaatkragvoorsiening.
Intussen word nog ses projekte aan kontrakteurs toegeken.
Hy sê teen die eerste kwartaal van die 2024-’25 boekjaar sal projekte van R524 miljoen toegeken wees.


