Die aansoek dat die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley aan minagting van die hof skuldig bevind word weens sy “nonchalante” versuim om betyds tegniese verslae by die hof in te dien oor hoe die rioolprobleme by Kamfersdam opgelos word, is op Maandag 24 Maart in die hooggeregshof afgewys.
Tog is die munisipaliteit beveel om op 30 Mei ‘n tegniese verslag in te dien oor hoe rioolbesoedeling van die oorvol Kamfersdam stopgesit gaan word.
Die munisipaliteit moet op die laaste Vrydag van elke vier daaropvolgende maande ‘n vorderingsverslag by die hof indien.
Die eiser wie se landbougrond op Kamfersdam en daarnaas is, se skadevergoedingseis teen die munisipaliteit is afgewys, maar regter Almé Stanton het die munisipaliteit in ‘n bestraffende kostebevel gestraf vir hul “onverskillige, nalatige en windmakerige” houding tenoor die stad en sy inwoners oor die erns van die riool-“ramp”.
Optrede ‘laat veel te wense’ oor
Die munisipaliteit het volgens die regter nie daadwerklik aandag aan die probleem gegee deur vorige verslae aan die hof teen spertyd in te dien nie. Dié optrede rakende laat “veel te wense” oor. Dit kom ná die nuutste aansoek van Brenda Booth van Northern Cape Ranchers, ‘n benadeelde grondeienaar.

Regter Stanton het in haar uitspraak bevind die munisipaliteit het nie op mala fide en opsetlike wyse opgetree om die vorige hofbevel te verontagsaam nie. Hulle het verslae voorgehou, hoewel nie teen spertyd nie. Die hof moet egter toesien dat die munisipaliteit met sy rioolsuiweringsaanlegte se probleme sy grondwetlike verpligtinge met ‘n gestruktureerde interdik nakom.
Die departement van water en sanitasie (DWS) het vir die 2024-’25-geldjaar sowat R492 miljoen en vir die 2025-’26-geldjaar sowat R574 miljoen beskikbaar gestel vir opknapping van die waternetwerkinfrastruktuur.
Sy het beveel die volgende verslag moet besonderhede bevat oor hoe die munisipaliteit daagliks en vanaf 20 Mei nie meer rioolafval, waarvan die gehalte meer as 1 000 CFU/100 megaliter is, in die dam stort nie. Daagliks mag nie meer as 30 megaliter uitgelaat word nie, en die wanfunksionele Homevale-aanleg en sekuriteitstelsel moet opgeknap word.
Besonderhede oor ‘n toegekende begroting, asook samewerking met Malu Pork, Ekapa Myn, gholfbaan en nuwe waterpypleiding moet ingesluit wees.
Booth het in haar aanvanklike aansoek in 2024 aangevoer die munisipaliteit is veronderstel om gesuiwerde water uit sy Homevale-rioolaanleg en watersuiweringswerke in Kamfersdam te pomp.
Omdat dié aanleg jare lank al wanfunksioneel is, word massas rou riool in Kamfersdam losgelaat. Booth het aangevoer dit verswelg weiding, bedreig plante en diere en besoedel die grond so erg dat die waarde verminder. Die flaminke het lankal verdwyn.

Ingevolge die hofbevel wat Booth op 22 Maart 2024 bekom het, moes die munisipaliteit binne 60 dae ‘n tegniese verslag by die hof indien. Hierin moes verduidelik word wat die stappe is om binne 120 dae die e.Coli-vlakke binne aanvaarbaar vlakke te verlaag, en geen rou riool in Kamfersdam te pomp nie.
Direktiewe, regseise ignoreer
Sedert 2016 het die munisipaliteit hom geensins aan direktiewe van die DWS gesteur of drie regseise van Booth nie. Amptenare het haar uitnodigings om die omgewingskade aan haar grond te inspekteer, van die hand gewys.
Die munisipaliteit voer aan die vorige hofbevel is nie op die regte manier op al die respondente beteken nie. Meganiese en elektriese foute is herstel en die chloorkamer in werking.
Die 15 megaliter-deel van die 48 megaliter-aanleg is in bedryf. Die 33 megaliter-deel word oor 20 maande herstel, waarvoor R106 miljoen nodig is. Aansoek is by die DWS gedoen.
Transnet staan die munisipaliteit by om mobiele waterpompe te koop en ‘n 3 km-pypleiding van Kamfersdam na die Vaalrivier te vervang om water weg te pomp. Die pompe kom in werking wanneer die pypleiding teen die einde van die jaar vervang is.
Die munisipaliteit betwyfel Booth se toetsuitslae en meen die afvalwater is van aanvaarbare gehalte. Die volume water en damvlak neem af, word aangevoer.



You must be logged in to post a comment.