Die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley sê hy glo sy plan om die stad se verouderde grootmaatwaterinfrastruktuur oor die volgende agt jaar op te knap, sekere gedeelte te vervang en uit te brei, maak voorsiening vir inwoners se behoeftes vir die volgende 30 jaar.
Khuza Bogacwi, waarnemende munisipale bestuurder, het Sondag erken die munisipaliteit is in ‘n krisis. “Ons het kort-, medium- en langtermyn oplossings vir die voortslepende watertoevoeronderbrekings en gepaardgaande herstelwerk nodig. Deur die begrotingstoegif vir infrastruktuur (BFI) waaruit ons R2 miljard van die tesourie ontvang het, kan ons die waterinfrastruktuur opknap. Die projek sluit die afvalwaterinfrastuktuur in.
“Die probleme is ’n gevolg van verouderende infrastruktuur wat ons met die behulp van die BFI oor die volgende agt jaar in fases gaan opknap en uitbrei. Op die oomblik is ons in die eerste fase, wat nood-ingrypings verg. Dit word deur opknapping, uitbreiding en vervanging opgevolg.
Intussen ontstaan en moet nuwe lekplekke herstel word. “Ons ervaar sabotasie op ons pypleidings. Veeboere kap pype stukkend om water vir vee te bekom, of stel selfs loodgieters aan om onwettige koppelings te maak of kleppe oop te draai. Wanneer ons as deel van die BFI gedeeltes van die pypleiding vervang, sal ons ook sekuriteitsmaatreëls instel en heinings om ons pompstasies bou en kringtelevisiestelsels in diens stel. Tegnologie sal ook in plek gestel word om dadelik te sien op watter plekke waterdruk verminder om te bepaal waar lekplekke is.”
In die volgende jare gaan ‘n nuwe 1,2 m deursnit grootmaatpypleiding direk van Riverton na die Newton-opgaardamme gebou word waaraan geen ander pype gekoppel gaan word nie. Op die oomblik is daar heelwat ander pypleidings wat aan die twee grootmaatpypleidings gekoppel is. Sommige hiervan is onwettig.
Hy sê die veiligheid van infrastruktuur is ook die verantwoordelikheid van provinsiale en nasionale regering. “Van die tenders wat vroeg volgende jaar uitgesit word, is vir verbeterde sekuriteit by ons aanlegte. Ons het bekwame ingenieurs wat die projekte sal bestuur, wat inwoners moet gerus stel en vertroue gee dat die werk reg gedoen sal word. Ons fokus op die toekoms.”
Blessing Mukosi, stadsingenieur vir water en sanitasie, sê die waterinfrastrastruktuur is net vir 70 000 mense gebou, wat onvoldoende is vir die vraag van 270 000 inwoners. “Daarbenewens het ons waterverliese van meer as 30% by Riverton, wat teen volgende jaar opgelos sal wees.
“Ons gaan oral isolasiekleppe en drukmeters in diens stel sodat ons nie die watertoevoer in sy geheel afskakel vir herstelwerk nie.”
Hy sê in die afgelope weke het hulle hard probeer om die vier opgaardamme by die Newton-aanleg vol te maak. “Ons het ongelukkig het ons baie lekplekke gehad en probleme by die Riverton aanleg. Ons glo dat die afsluitings in die middae om die opgaardamme voller te maak, vandeesweek gestaak sal word. Ons doen daaglikse inspeksies van die pypleidings.”
Hy glo daar sal geen wateronderbrekings op Kersdag en op Nuwejaar wees nie.


