Die aantal motoriste wat voertuigbande weens slaggate in Kimberley se strate moet vervang, het die afgelope weke drasties vermeerder.
“Noudat dit so baie reën, kom dit nog meer voor,” sê ’n handelaar in voertuigbande in Cecil Sussmanstraat.
“Wanneer die slaggate vol water is, sien jy dit nie. Jy voel dit net wanneer jy daardeur ry,” sê hy.
By sy onderneming kry hy tot agt motoriste per dag wat ’n voertuigband weens ’n slaggat-voorval moet vervang. Die velling van so ’n band het ook telkens skade.
“Veral die laeprofiel-vellings kry skade, en ons kan dit nie altyd regmaak nie. Soms moet dit weggestuur word, wat nog meer koste vir die motoris behels.”
’n Handelaar in Phakamile Mabijastraat sê hy help gemiddeld 12 motoriste per dag met stukkende bande weens slaggat-voorvalle.
“Een uit 30 kere is die velling ook erg beskadig,” sê hy.
Nog ’n handelaar in Longstraat sê hy het vroegoggend reeds drie motoriste hiermee gehelp, en tot sewe motoriste per dag kom by sy onderneming aan met stukkende bande weens slaggate.
DA-raadslid Marie Beylefeld en ander partylede het Vrydag (08/04) teen die baie slaggate in die stad betoog.
“Teen die tempo wat slaggate in Kimberley herstel word, sal dit 22 jaar neem om al die gate in die teerpaaie van die hoofstad van die Noord-Kaap reg te maak,” sê sy.
Die R500 miljoen-inspuiting soos deur die premier, dr. Zamani Saul, beloof, sou gehelp het om sy visie – van nie ’n enkele slaggat teen die einde van 2021 in en om Kimberley – gestand te doen. Dit is nie bekend hoe die geld aangewend is nie.
Volgens ’n verklaring van die party is die padherstelwerk wat sedertdien in die stad gedoen is deur die munisipaliteit met R14 miljoen, werkers van die uitgebreide openbare werkersprogram (EPWP) en ’n dieselwerktuigkundige gedoen, aan wie glo ’n kontrak vir die verskaffing van teer toegeken is.
“Die party weet dat die Frances Baard-distriksmunisipaliteit R3,5 miljoen vir padherstelwerk direk aan hierdie maatskappy betaal het. Die party het bewyse van betaling aan dié maatskappy, wat glo nie aan belastingvereistes voldoen het nie.”
Die munisipaliteit het glo ’n verdere tweejaarkontrak met dieselfde maatskappy vir die herstel van slaggate aangegaan.
“Ironies genoeg besit die maatskappy nie padherstelmasjinerie en -toerusting nie, en verskaf slegs teer aan die munisipaliteit, wat ook nie padherstelmasjinerie besit nie. Dit moet teen bykomende koste gehuur word. Die munisipaliteit het ook nie werknemers wat vaardig is in die herstel van slaggate nie, en gebruik EPWP-werkers om dit te doen,” lui die verklaring.
“Dit is geen wonder dat die slaggatherstelwerk wat reeds in die stad gedoen is, nie langer as ’n paar maande of ’n paar reënstorms duur nie, en paaie daarna in ’n slegter toestand as tevore is.”
Die DA sê dat die munisipaliteit hiermee ’n diep gat vir homself gegrawe het.





