Toergids Frank Higgo vertel oor die Slag van Magersfontein, terwyl die besoekers ‘n wye uitsig oor die slagveld het.

Foto: Helena Barnard

Die Magersfontein-museum bied ’n goeie uitbeelding van die slag wat hier plaasgevind het.

‘n Uitsig oor die vlakte by die Magersfonteinkoppie.

Vanaf die uitkykpunt oor die vlakte waar die Slag van Magersfontein plaasgevind het, kan bykans enige Suid-Afrikaner hom die versugtinge van ’n voorsaat oor die wye vlakte verbeel.

Dit is hier, met loopgrawe uit Desember 1899 soos letsels om die koppie, waar soldate van verskillende bevolkingsgroepe en vanuit uiteenlopende wêrelddele, se bloed vergiet is.

Op hierdie vlakte het die veldslag op 11 Desember 1899 – ’n beroemde oorwinning vir boeremagte en “a tremendous shock for the British Empire” soos deur toergids Frank Higgo beskryf – plaasgevind.

Dit was deel van opeenvolgende nederlae wat die Britse magte tydens die Tweede Vryheidsoorlog gely het, en was in Brittanje as die Swart Week bekend.

Die veldslag in dié oorlog, ook genoem die Anglo-Boereoorlog of die Suid-Afrikaanse oorlog wat van Oktober 1899 tot Mei 1902 geduur het, was ’n direkte gevolg van die Beleg van Kimberley, waar boeremagte Kimberley beset het. Die Britse magte het gepoog om dit te ontset en veral die spoorverbinding te herstel.

Die loopgrawe wat die boeremagte aan die voet van die Magersfonteinkoppie gegrawe het, het aan hulle die oorwinning besorg. Die Britte het geglo dat hul vyandelike magte die koppie beset, terwyl hulle aan die voet daarvan in loopgrawe ingegrawe was. Die loopgrawe se ligging en dat dit goed gekamoefleer was, het tot die boeremagte se oorwinning bygedra.

Die Britse magte het die Magersfonteinkoppie net ná middernag begin nader. Hoewel die nag versmorend warm begin het, het ’n storm met weerlig, donderweer en swaar reën tydens die opmars uitgebreek. In pikdonkerte het die soldate oor nat klippe, plante, miershope en ongelyke grond voortgestrompel.

Vandat die eerste skote uit die loopgrawe gevuur is, het verwarring glo by die marsende soldate geheers. Binne die eerste sewe minute was daar aldus britishbattles.com ongeveer 700 gewondes of gesneuweldes onder die Highland Brigade, wat toe nog steeds in nabye ligging was en nie oor die vlakte uitgesprei nie.

Die aanloop tot dié bloedige veldslag word duidelik op die inligtingsbord by die uitkykpunt aangedui, terwyl die verloop en meer inligting in die Magersfontein-museum uiteengesit is.

Volgens die inligtingstukke in die museum het Boer en Brit met die uitbreek van die oorlog ingestem om nie swartmense by die oorlog te betrek nie, maar met verloop het albei magte al meer op swart- en bruinmense as onder meer soldate, arbeiders, wa-drywers, wagte, agterryers en verkenners gesteun.

Die uitkykpunt oor die slagveld by Magersfontein.

Magersfontein bied ook kort staproetes, verkieslik op die paadjies.

Wees ’n toeris, al is dit vir ’n dag lank

Reis plaaslik; leer ken jou omgewing, het Abraham Vosloo, die Noord-Kaapse LUR van ekonomiese ontwikkeling en toerisme, onlangs tydens die bekendstellingsgeleentheid van vanjaar se Toerismemaand gesê.

Dié geleentheid is by die Magersfontein-terrein aangebied, knus langs die slagveld, museum, restaurant en pas opgeknapte gastehuis.

Volgens Vosloo is korter wegbreekgeleenthede en selfs daguitstappies in eie omgewing deel van die toerismebedryf oor die wêreld heen se poging om dié bedryf ná die hewige impak van die Covid-19-pandemie te herstel.

Statistieke toon aan dat daguitstappies in Suid-Afrika tydens die 2021-’22-boekjaar met 50% gegroei het, sê hy.

Hy moedig die publiek aan om hul eie omgewing te verken, en plaaslike ondernemings en instellings in die toerismebedryf te ondersteun.

“Ontdek die markte, padstalle, museums, natuurreservate, nasionale parke en al die kultuur- en avontuur-belewenisse wat die Noord-Kaap bied.”
Abraham Vosloo

Vir diegene in die toerismebedryf was sy raad om produkte en dienste te diversifiseer.

Vosloo sê hoewel die getal besoekers aan die Noord-Kaap toegeneem het, voorspel die United Nations World Tourism Organisation dat die bedryf oor die wêreld heen eers teen 2024 sal herstel het tot waar dit in 2019 was.

Die verskeidenheid wat die Noord-Kaap as toerismebestemming bied, is ook beklemtoon, soos onder meer die 300 km-lange kuslyn, vyf nasionale parke, sewe provinsiale natuurreservate en vyf unieke toerisme-streke.

Die Noord-Kaap raak ook al meer bekend as ’n bestemming vir avontuur en ekstreme sportbelewenisse, soos die Kalahari Augrabies Extreme Marathon van 250 km.

“Elke besoeker kan ’n toerisme-ambassadeur vir die Noord-Kaap word. Deel jou foto’s en belewenisse,” het Vosloo afgesluit.

By die bekendstelling van Toerismemaand in die Noord-Kaap is van links Sizwe Mbi, voorsitter van die Northern Cape Tourism Authority, Abraham Vosloo, LUR van ekonomiese ontwikkeling en toerisme, en Sunet Swanepoel, uitvoerende hoof van die McGregor-museum.

Martha van Schalkwyk, wat al meer as 25 jaar die Magersfontein-restaurant bedryf, is wyd bekend vir haar kookkuns.

Soos ouma dit gemaak het

Die Magersfontein-kompleks, deel van die McGregor-museum, is net meer as ’n halfuur se ry vanaf Kimberley op die N12 in ’n suidelike rigting, en bied ’n ideale dag- of selfs naweekuitstappie.

Die minder as 6 km grondpad net voor die museum-kompleks hoef besoekers nie af te skrik nie aangesien dit so gereeld moontlik geskraap word.

Behalwe die uitkykpunt, verskeie gedenktekens, museum en braaigeriewe vir dagbesoekers, kan besoekers met voorafbespreking in die Bagpipe Lodge tuisgaan wat pas deur die departement van ekonomiese ontwikkeling en toerisme opgeknap is.

Dit bied drie slaapkamers, twee badkamers en ’n oopplan kombuis en sitkamer vir ses persone aan, asook ’n buitebraai-area.

Dié huis is in 2002 in ’n gastehuis verander ná dit vir jare as die huis van die museumbestuurder gedien het.

Besoekers kan selfs so gelukkig wees om een van die ongeveer 40 geharde Tankwa-bokke te sien wat op die klipkoppe by Magersfontein hervestig is.

Die bokke, wat in Februarie 2016 hier losgelaat is, is vanaf die Tankwa-Karoo- Nasionale Park na Magersfontein gebring.

In die Tankwa het hulle oor dekades heen afgesonder en wild geraak, en in ’n boksoort ontwikkel wat groter en swaarder is, maar wat ideaal in die habitat by Magersfontein aanpas.

Beslis ’n besoek werd is die Magersfontein-restaurant waar Martha van Schalkwyk vir meer as 25 jaar reeds onder meer tuisgekookte etes voorsit.

Van Schalkwyk het op die plaas Voetpansdrift binne stapafstand van Magersfontein grootgeword en vertel dat sy nog haar lewe lank hier betrokke is.

Gedurende die week bedien sy, met die hulp van gesinslede, ligte etes en ook haar beroemde melktert, wortelkoek, koeksisters en soms sjokoladekoek.

Die Sondagmiddagetes, waarvoor besprekings nodig is, vul besoekers met nostalgie omdat dit geregte is “soos wat my ouma gemaak het”.

In die nabye omgewing van die Magersfontein-museum is gedenktekens vir verskeie magte opgerig, onder meer die Burger-monument. Ook in die omgewing is die Magersfontein Memorial Gholf Estate, Ritchie (met onder meer ’n bierbrouery), Jacobsdal (met ’n koffiewinkel), die Mokala- Nasionale Park en Hopetown (met ’n padstal en koffiewinkel net voor die dorp).

Of ’n mens in geskiedenis belangstel of nie, is dit steeds die moeite werd om vanuit die uitkykpunt oor die vlakte te tuur, en te hoor hoe die wind oor die koppie suis.

Die wat weet sê ’n mens sal sommige nagte by Magersfontein die droewige klank van ’n doedelsak hoor; of die swaaiende ligte van dié wat ’n gewonde op ’n draagbaar dra; of ’n eensame lig wat soos ’n verlore siel oor die vlakte dwaal.

  • Skakel 053-833-7115 vir meer inligting oor die Bagpipe Lodge en Van Schalkwyk se restaurant, en rig navrae oor museums in die provinsie aan sunet@museumsnc.co.za.

Die Bagpipe Lodge soos vanaf die Magersfontein-museum gesien, is knus in die koppie geleë.

Die Bagpipe Lodge bied ‘n oopplan sitkamer- en kombuis.

De dekor in die Bagpipe Lodge is gepas by die atmosfeer.

Een van die drie slaapkamers in die Bagpipe Lodge, met ‘n uitsig op die keltiese kruis wat vir die gesneuwelde soldate van die Highland Brigade opgerig is.

Die Bagpipe Lodge by Magersfontein is pas deur die Noord-Kaapse departement van ekonomiese ontwikkeling en toerisme oorgedoen.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article