DIE Griekwas het die seisoen met ’n groot doelwit begin: om te verseker hulle speel weer in die Curriebeker se Premierliga. Daarvoor moes hulle deur ’n kwalifiseringsronde probeer kwalifiseer.
Die Vodacombeker sou dus as ’n goeie boufase gesien word en boonop kon Griekwas met ’n sesde titel dié reeks se mees suksesvolle span word.
Die Poubloues en Leeus het albei voor 2015 met vyf titels gespog.
Die Griekwas het goed afgesit deur hul eerste vier wedstryde – teen die SWD-Arende, Boland, Grens en OP-Kings – te wen. Drie daarvan was weg van die huis af.
Toe kom die eerste hindernis teen die Westelike Provinsie. In daardie stadium was hulle en die Griekwas die enigste twee onoorwonne spanne.
Die WP, wat in 2012 se eindstryd hier Griekwas se hart gebreek het deur in ekstra tyd die wenpunte aan te teken, het al sy wedstryde teen die Griekwas sedert 2002 gewen en weer so gemaak. Boonop was dit op die Hoërskool Diamantveld se veld waar die Griekwas ’n goeie vertoningslys het.
Reeks eindig teleurstellend
Die Noord-Kapenaars het goed herstel en hul oorblywende twee groepwedstryde teen die Haaie (27-24) en die Vrystaat (19-18) gewen om die tweede plek op die puntelys vir die suidelike spanne in te neem. Dit het aan hulle ’n kwarteindstryd tuis in Kimberley teen die Pumas besorg. Die tuisspan was die groot gunsteling en het nog nooit voorheen ’n tuisnederlaag in ’n kwarteindstryd van die kompetisie gely nie.
Maar die Pumas het hul veldtog met ’n oorwinning van 28-14 beëindig. Die grootste struikelblok was die lynstane. Die haker, Martin Bezuidenhout, het ’n nagmerrie beleef en by nege geleenthede is balbesit afgestaan.
Verder het die tuisspan vir lank planloos op die aanval voorgekom en dikwels besit weggeskop.
Daar kon nie te lank getob word oor die Vodacombeker wat op ’n teleurstellende wyse geëindig het nie, want die kwalifiseringsronde vir die Curriebeker se Premierliga het voorgelê. Die Griekwas moes vir ’n tweede jaar hieraan onderwerp word nadat hulle nie daarin kon slaag om onder die ses topspanne in 2014 se CB-reeks te eindig nie.
Die Griekwas en die Luiperds was die twee gunstelinge om die enkele plek in die Premierliga op te raap.
Herstel goed ná skok
Sake het egter rampspoedig vir die span van Kimberley begin met ’n skoknederlaag van 13-20 teen Grens in Oos-Londen.
Die bonuspunt vir die nederlaag van sewe punte sou egter later van kardinale belang word.
Hierdie nederlaag het die druk aansienlik laat toeneem en die Griekwas moes in al vyf hul oorblywende wedstryde met ’n bonuspunt seëvier om nog in die wedloop te bly.
Die Griekwas het nie een keer in die afgelope twee dekades in ’n laer kompetisie as die Premierliga gespeel nie. Die druk was dus aansienlik.
’n Sege van 48-17 oor die Boland het gevolg voor die buig-of-bars-wedstryd teen die Luiperds in Potchefstroom.
Wen die Noordwesters of kry hulle ’n bonuspunt of twee, is dit neusie verby vir die Poubloues. Wat gevolg het was ’n vertoning waaraan ondersteuners van die span al gewoond geraak het wanneer die span met die rug teen die muur is.
Die Griekwas het met puik rugby die wedstryd met 48-21 gewen om eensklaps die gunsteling geword om eerste op die puntelys te eindig, mits hulle vyf ligapunte uit die oorblywende drie bepalings kon versamel.
Danksy oorwinnings oor die Griffons (47-20), Valke (57-33) en SWD-Arende (41-21), is daar vasgeklou aan die boonste posisie op die puntelys, met slegs ’n enkele punt bo die Luiperds om vir die Curriebeker se Premierliga te kwalifiseer.
Griekwas dra houtlepel
Griekwas het minder as twee weke gehad om vir die Premierliga voor te berei. Dit het gewys in die eerste ronde toe die WP hier met 43-19 geseëvier het.
Teen die Bulle die week daarop was die Poubloues met 22 minute se speeltyd oor nog voor gewees, maar het in die laaste 20 uitgesak en met 12-36 verloor.
Die Bulle en Cheetahs het albei gemaklike seges in Kimberley behaal voordat die Kimberliete weer ’n goeie vertoning vir 60 minute teen die WP in Kaapstad gelewer het en selfs nog voorgeloop het, net om in die laaste 20 minute oorskadu te word.
Die Griekwas het hulle een en enigste sege teen die Pumas (32-15) behaal en daarmee wraak geneem vir die nederlaag in die kwarteindstryd van die Vodacombeker.
Twee weke later teen die Kings in Port Elizabeth was dit as’t ware ’n uitspeelstryd om die houtlepel. Die Kings het die wedstryd met 40-37 gewen danksy ’n drie ’n paar sekondes ná die toeter die 80ste minuut aangedui het.
Die laaste wedstryd teen die Leeus was bemoedigend en kon nog albei kante toe gegaan het teen die einde, toe die Griekwas van hul doellyn aangeval het, maar Carel Greeff die bal aangeslaan het en die Leeus net moes oorval om te druk.
Kwalifiseringsronde byt aan hakskeen
Met die kwalifiseringsronde sou die Griekwas se diepte altyd teen die einde van die CB-reeks beproef word, wat dan ook die geval was.
Etlike speler het teen die einde van die seisoen met skete gesit en sodoende die span se slaankrag aansienlik uitgedun.
Die Griekwas het beslis ’n agterstand bo die ander sewe spanne in die Premierliga gehad, aangesien hulle ses moordende weke van rugby in die kwalifiseringsronde moes deurmaak. Heelwat skuiwe gaan onder die spelerskorps plaasvind. Van die bekendste spelers onder die 12 nuwelinge is AJ Coertzen (Vrystaat), Alshaun Bock, Marius Fourie (albei SWD), Uzair Cassiem, Jason-Colin Fraser (albei Pumas) en Tiaan Dorfling (Luiperds). Aan die debietkant is daar 13 spelers wat nie weer vir die Griekwas gaan uitdraf nie.
Hulle is PJ Vermeulen, Ruhan Nel, Stix Ngcobo, Carel Greeff, Francois Brummer, Tian Meyer, Michael van der Spuy, Danie Mienie, Abrie Griesel, Jacquin Jansen, Rocco Jansen, Danie Dames, Leon Karemaker, Johan Wessels.
Soek steeds na hoofborg
Die Griekwaland-Wesse Rugbyunie (GWRU) is steeds op soek na ’n hoofborg. Die borgskap met GWK sou einde verlede jaar klaargemaak het, maar het nog vir die Vodacombeker-reeks aangebly.
Dié landboumaatskappy was ses jaar lank die hoofborg en het ook die naamregte van die stadion gedra.
Die stadion is as Griekwapark bekend. Oranjerivier-wynkelders (ORC) het vir die kwalifiseringswedstryde van die Curriebeker-reeks as hoofborg waargeneem