Tumelo Mosikare, gemeenskaps­aktivis (heel links), staan saam met Shipo Sibiya, William van Wyk, Ann Haal, Jessica Jacobs, Stepholine Martins en Eugene Alexander, terwyl Mona Heyns sit. Die gebou agter hulle was voorheen deel van die Thusong-kinder-en-jeugsorg­sentrum.

Foto: Charné Kemp

haweloos

Die hawelose Teaan Chanka (links), Nathan Lekwene (middel) en Emmanual van der Linde is oudinwoners van die Thusong-kinder-en-jeugsorgsentrum.

’n Gemeenskapsaktivis sê heelwat van Kimberley se haweloses was eens gekoesterde weeskinders aan die Thusong-kinder-en-jeugsorgsentrum in De Beers.

Sommige van dié oudinwoners wat nou op Kimberley se strate slaap, beweer die kinderhuis is ’n paar jaar gelede toegemaak sonder dat geskikte alternatiewe heenkome vir hulle verkry is of hulle vaardigheidsopleiding ondergaan het.

Intussen het die Re Aga Lefika-sopkombuis, wat in 2019 deur die kantoor van die premier en ander belanghebbendes op die terrein van die eertydse kinderhuis opgerig is om haweloses kos te gee, ’n stille dood gesterf.

Luidens ’n berig op NCNN-Live is die sopkombuis deur Keitumetse Lekwene, ’n Re Aga Lefika-direksielid, en Daphne Mandabane van die premier se kantoor ondersteun. Die projek is deur vroue gelei. Die nasionale departement van openbare werke en infrastruktuur sou saam met die premier se kantoor die gebou opknap.

Deesdae woon 11 mense in dié afgeleefde gebou, destyds deel van die kinderhuis.

Die haweloses sê hulle het geen ander heenkome nie. Hulle het nie elektrisiteit nie. Die oorgroeide en rommelbestrooide erf was eens ’n speelterrein vir die weeskinders.

Tumelo Mosikare, gemeenskaps­aktivis, sê die versaakte haweloses slaap oral in die stad.

“Dit is uiters noodsaaklik dat die regeringsdepartemente onderling verantwoordelikheid neem en skuilplek en geleenthede aan haweloses bied, anders gaan die gemeenskap die gevolge dra.

“Die gevolge is misdaad, kabeldiefstal, gewelddadige misdaad, sterftes en vandalisme. Die mense koop kos en dwelms met die geld.

“Ons wil weet wat van die kinderhuis en sopkombuis geword het. Waar is die mense, en wat het hulle eintlik vermag?”

Die haweloses met wie NoordkaapBulletin gepraat het, sê hulle bedel vir geld, of was motors.

Shipo Sibiya (24) sê hy het as 11-jarige by die weeshuis opgedaag.

“Die bestuurders het goed na ons gekyk. Op ’n dag het die geld net opgeraak. Die personeel is nie betaal nie. Ons is aangesê om terug te gaan na ons ouerhuise. Watter huise? Die kinderhuis was ons huis. Sedertdien swerf ons.”

Die erf waarop die huis is, grens aan die De Beers-myngat.

“Ons het al gevegte met Basotho-mense gehad wat na diamante wou delf. Hulle wil ons van die erf verdryf. Waarheen kan ons gaan?

“Ons het geen geld om sinkplate te koop om ’n huis elders te gaan bou nie. Ons kwalifiseer nie vir HOP-huise nie.”

Teaan Chanka, Nathan Lekwene en Emmanual van der Linde is ook oudinwoners van die kinderhuis.

Hulle bedel agter die Boxer-slaghuis in die stad, saam met byna 20 ander haweloses. Chanke sê hulle is ná die kinderhuis se sluiting op straat gesit, sonder hul ID-dokumente en kinderhuislêers met hul skoolsertifikate.

“Sonder ons ID-dokumente en skoolrapporte bestaan ons nie eintlik nie. Ons kan nie vir werk aansoek doen nie, want ons het ook nie vaardigheidsopleiding gehad nie.”

Voortdurende uitdagings

Gamiem Abrahams, woordvoerder vir die departement van maatskaplike ontwikkeling, sê die Thusong-kinder-en-jeugsorgsentrum was tot 2019 ’n satellietgerief van Kids Haven in Kaapstad.

“Twee van die geboue het aan Kids Haven behoort, en die ander aan die regering. Ons het dit nooit as ’n amptelike skuiling vir haweloses of ’n sopkombuis geregistreer of befonds nie. 

“Voorheen was daar voortdurende uitdagings met die bestuur en bedrywighede van die sentrum. 

“Die registrasie het verval, weens verskeie oorsake: Konflik binne die bestuursraad het gelei tot ’n gebrek aan toesig, monitering en evaluering van dienste. Jaar- en ander bestuurs­vergaderings het nie plaasgevind nie. Geouditeerde finansiële state en nie-finansiële data was nie beskikbaar nie. Kinders is ingeneem en het sonder geldige hofbevele by die sentrum gebly. 

“Sommige van dié mense was ouer as 18 en nie wetlik veronderstel om ingeneem te word nie. 

“Die sentrum het ’n lae besettingsyfer gehad, die diens is nie ten volle benut nie en het nie die uitgawe regverdig nie.

”Vier ander geregistreerde kinder-en-jeugsorgsentrums is in Kimberley beskikbaar. Destyds is plek hier beskikbaar gemaak toe kinders van Thusong oorgeplaas is. 

“Ons departement het verskeie ingrypings gedoen. Die sentrum is onder finansiële administrasie van Kinderwelsyn geplaas; weeklikse terreinbesoeke en monitering is gedoen; leiding is vir ’n finansiële bestuur- en liasseringstelsel gegee; raadslede is opgelei; en ons regseenheid het personeel oor regskwessies opgelei.

”Die ingrypings het oor vier jaar nie gehelp nie, en die sentrum is gesluit. 

“Prosedures is gevolg. Kinders jonger as 18 jaar is geassesseer en hul huislike omstandighede ondersoek, kinders wat gereeld met hul gesinne in kontak was, is met hulle herenig. Kinders wat geen onmiddellike familie gehad het nie, is óf in pleegsorg geplaas óf deur die hof na ’n ander kinder-en-jeugsorgsentrum oorgeplaas. Personeel is drie maande kennis gegee. ’n Vergadering is met Kids Haven gehou om die geboue aan hulle terug te gee en reëlings is getref om dit teen vandalisme te beskerm. Geen kind is dakloos gelaat nie.”

Die departement van openbare werke en infrastruktuur, en die premier se kantoor, het teen die koerant se spertyd nie kommentaar gelewer oor die sopkombuis nie.

Haweloses van 13 tot 16 jaar

AOSIS Books het
in 2021 ? publikasie “Facing Homelessness” gepubliseer, waarvan Stephan de Beer
en Rehana Vally die redakteurs was. Hul opname bevind Kimberley se haweloses is
tussen 13  jaar en tot 60 jaar; en 80% van hulle is mans.

Verwysend na die Re
Aga Lefika-sopkombuis, is dit volgens hulle tydelik en nie volhoubaar nie.
Hulle het ? opname gebruik wat deur die provinsiale regering en plaaslike
NRO-amptenare beskikbaar gemaak is.

“Die sentrums hanteer nie die direkte
uitdagings van haweloosheid en hoe om dit op te los nie. Daar is geen akkurate
statistieke oor die haweloses en geen aangewese begroting of beleid vir
haweloosheid in Kimberley nie. Die gebrek aan intersektorale samewerking
vererger die probleem. Daar is nie duidelik omskryfde rolle oor die
aanspreeklikheid oor haweloosheid in Kimberley en die Noord-Kaap as geheel nie.
Die provinsiale regering voer byvoorbeeld aan dat haweloosheid ‘n kwessie is wat deur
distriks- en plaaslike munisipaliteite hanteer moet word, terwyl daar geen
begroting of beleid vir volhoubare ingrypings nie.”

Luidens die
publikasie is amptelike statistiek afwesig oor die aantal haweloses, hoewel een
amptenaar berig het dat daar net tussen 100 en 200 mense snags op Kimberley se
strate slaap. 

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article