Die Aloidendron dichotomum is een van drie kokerboomspesies wat die eerste keer as bedreig op die IUN se rooilys verskyn. Foto: Domitilla Raimondo


plante

Hier word plante gestroop.

Suid-Afrika se vetplante word ernstig bedreig weens die gekombineerde impak van klimaatsverandering en onwettige stropery om snelgroeiende markte in Asië van vetplante te voorsien.

Volgens die Internasionale Unie vir Natuurbewaring (IUN) was daar sedert 2019 ’n skerp styging in die wêreldwye vraag na versamelbare plante.

Die vraag word aangevuur uit opkomende markte oor Asië heen.

Die IUN se jongste rooilys vir bedreigde spesies is onlangs uitgereik en sluit 210 spesies vetplante in wat die eerste keer op die lys is.

Die Karoo-vetplantbioom, wat oor Suid-Afrika en Namibië strek, is een van vyf halfdroë biodiversiteit-brandpunte in die wêreld en is ryk aan botaniese diversiteit, sê Domitilla Raimondo, programbestuurder van bedreigde spesies by die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut.

“Baie van dié bioom se unieke spesies is gesog onder spesialis-plantversamelaars.”

Raimondo sê duisende van die vetplantspesies kom net in klein gebiede voor en baie van hierdie gesogte spesies is nog nie op kommersiële skaal beskikbaar nie.

“Sosialemedia-webwerwe bied die ideale platforms om vetplante te bemark. Dit wakker die groei in onwettige handel aan en verhoog die risiko dat honderde spesies kan uitsterf.”

Raimondo sê die meeste van die 210 spesies wat nou die eerste keer op die IUN se rooilys is, behoort tot die genus Conophytum, ’n groot en diverse groep dwergvetplante wat algemeen bekend is as “knopies”. Altesaam 97% van die genus word in een van die drie bedreigde kategorieë gelys, terwyl 45% in die hoogste kategorie as kritiek bedreig gelys word.

“Dit beteken dat hulle op die randjie van uitwissing is.”

Volgens Raimondo is dit moontlik dat van die spesies reeds weens stropery uitgewis is. Hoewel die spesies nie voorheen op die IUN se rooilys was nie, was dit wel op Suid-Afrika se nasionale rooilys.

Sedert 2019 het 143 van die 157 voorheen gelysde Conophytums ’n toename in bedreigingstatus weens onwettige stropery ervaar.

Die afgelope drie jaar het die plante waarop die polisie beslag gelê het toe hulle dit by stropers gekry het jaarliks met meer as 250% toegeneem.

Raimondo sê die polisie se optrede en verslagdoening oor stropery is waardevol.

“ ’n Nasionale reaksiestrategie- en aksieplan tussen staatsdepartemente, bewaringsowerhede, nieregeringsorganisasies en plaaslike gemeenskappe is begin om die voortbestaan van die ryk vetplantflora te verseker.”

Volgens die IUN se jongste verslag hou klimaatsverandering ook ’n bedreiging vir die vetplante in. Dit is die eerste keer dat klimaatsverandering in die verslag ingesluit is as ’n bedreiging vir die plante.

Die Karoo-vetplantbioom het die afgelope dekade moontlik die ergste droogte tot nog toe beleef, met klimaatmodelle wat voortdurende verdroging en stygings in maksimum temperature voorspel. Volgens die rooilys is drie spesies kokerbome nou as bedreig gelys.

Die reuse-aalwynkokerboom, Aloidendron pilansii, is as kritiek bedreig gelys. Dit is gegrond op die uitgebreide vrektes onder die kokerbome wat die afgelope dekade waargeneem is en ook op toekomstige klimaatmodelle wat ’n 90%-afname in die bevolking teen 2080 voorspel.

Die ernstigste droogteverwante afname vind plaas in die Richtersveld en Sperrgebiet van die Karoo-vetplantbioom – ’n streek wat as die wêreld se mees biodiverse woestynstreek bekend is.

Sowat 1 000 plantspesies wat endemies is aan die gebied toon ’n soortgelyke vlak van afname en hou verband met die uitgerekte droogte.

Raimondo sê mynbou en oorbeweiding deur vee is bykomende faktore wat ongekende skade aan die biodiversiteit van die wêreld se rykste woestyn-ekostelsel aanrig.

You need to be Logged In to leave a comment.