’n Rekeningkunde-olimpiade wat vanjaar ’n tweede keer aangebied is, het uitgekring om benewens leerlinge van die Vrystaat ook dié van die Noord-Kaap in te sluit.
Piet Fouché, hoof van rekeningkunde aan die Vrystaatse departement van onderwys, sê hy wil graag volgende jaar meer provinsies by die olimpiade betrek.
Die eerste deel van die olimpiade vir matriekleerlinge is in Mei afgelê, waaraan sowat 2 000 leerlinge in die Vrystaat en 500 leerlinge in die Noord-Kaap deelgeneem het.
Uit die eerste groep is die 150 topleerlinge uit die Vrystaat en 15 topleerlinge uit die Noord-Kaap genooi na die tweede ronde, wat op 10 Augustus voltooi is.
Die toppresteerders is op 17 Augustus tydens ’n geselligheid by die Hoërskool Jim Fouché in Bloemfontein beloon.
Driaan du Preez van Grey-kollege (sekondêr) was die topleerling in die eindronde, met ’n telling van 145 uit 150.
In die Vrystaat was Driaan eerste, Lize Ferreira van Eunice High School tweede en Jana Strydom van die Hoërskool Sasolburg derde.
In die Noord-Kaap was Lerato Spannenberg van die Hoërskool Upington eerste, Derli-Ann Loss van die Hoërskool Oranjezicht in Keimoes tweede en Aobakwe Mokgofa van die Hoërskool St. Boniface in Kimberley derde.
Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters (Saica) het die prysgeld wat aan die topleerlinge in elke skooldistrik gegee is, geborg.
Die instituut het ook pryse – wat ’n skootrekenaar vir die wenner, ’n tablet vir die naaswenner en ’n kontantprys van R750 vir die derde plek insluit – in elke provinsie geborg.





