Die muur wat Jan Cilliers laat bou het.
Die muur wat Jan Cilliers soos ‘n dyk gebou het om die Vaalrivier weg van sy huis te hou. Foto: Verskaf

Dit staan soos ‘n paal bo water, of in Jan Cilliers van Douglas se geval, sy huis wat droog staan gelyk met die watervlak van die Vaalrivier. Cilliers het die vloed suksesvol met ‘n muur wat as ‘n dyk dien, van sy huis op die rivieroewer weggekeer.

Die vloed het verlede week opnuut opgestoot nadat sluise van die Vaaldam oopgemaak is en nog water uit die Bloemhofdam gelaat is.

“Dit is ‘n geveg waarvan ek hou, ek wen hom,” sê Cilliers.

Hy het, saam met sy werkers, vandat die vloede begin het die muur om sy stoep aanhou verhoog. Die muur is met Brickforce-stene en versterking, drie lae op ‘n slag, gebou. Elke drie meter is ‘n stutmuur teen die stoepmuur gebou.

Die muur wat Jan Cilliers laat bou het.
Die muur wat Jan Cilliers soos ‘n dyk gebou het om die Vaalrivier weg van sy huis te hou. Foto: Verskaf

Die laaste laag stene van meer as 17 lae is die oggend van Saterdag 3 Mei gebou. Saterdagnag het die Vaalrivier tien sentimeter van die bokant van Cilliers se dyk handdoek ingegooi en begin sak.

Volgens Cilliers het die watervlak met sowat 6m vanaf die gemiddelde watervlak gestyg.

“Ek skat die hoogtepunt was toe die water teen 3 330 m³ per sekonde (kumek) gevloei het. In 2023 was die hoogtepunt 3 070 kumek. Ek het lesse uit die 2023-vloed geleer, toe ek ook die stoepmure hoër gebou het.”

Die familieboerdery waarby Cilliers betrokke is, het reeds hektare lusern en mielies aan die Vaalrivier se vloedwater afgestaan.

“Dit was darem nie te erg skade nie, want ná 2023 se vloed het ons die landerye na hoër grond verskuif,” vertel hy.

Benewens die muur, het hy etlike mangate om sy huis en in die stoepvloer gekap en dompelpompe met suiwer-skakelaars gekoppel om die water wat deur die muur en vloer syfer, weg te pomp.

Vloedmuur help tee nvloed
Andreas (Hokkie) Balie en Katrien die hond. Balie was elke aand die nagwag wat die dompelpompe opgepas het. Foto: Verskaf

Om warm te bly het Cilliers ‘n vuur in sy ingeboude braaier gemaak waar die water stadig van agter deurgesyfer het. Andreas “Hokkie” Balie, ‘n werker, het die dompelpompe aan die gang gehou om die syferwater weg te pomp.

“Die huis se onderste afvoerpype na die sypelrioolput is almal afgeblok. Ons gebruik net die toilet op die boonste verdieping waarvan die rioolput op die boonste terras nie in die vloedwater is nie.”

Die swembad van 25m voor sy stoep, waar swemkompetisies gehou word, is steeds onder water. Normaalweg staan die huis sowat 30m van die kant van die rivier, en sowat 6m bokant die wateroppervlak.

ʼn Uitsig oor die Vaalrivier vanaf die boonste verdieping van die huis. Foto: Verskaf

You need to be Logged In to leave a comment.