Devon Ovies (32), bekend as die Gordonia-slagter, het op 10 Januarie in die landdroshof in Springbok op aanklag van poging tot moord verskyn nadat hy sy suster, Cosima Williams (38), by hul huis in Concordia met ’n mes aangeval het.
Sy is verskeie kere gesteek en is in ’n kritieke toestand na ’n plaaslike hospitaal gebring.
Ovies is in Okiep vasgetrek, sê lt.kol. Sergio Kock, polisiewoordvoerder.
Hy is die Gordonia-slagter genoem nadat hy op 25 April 2015 ’n verpleegsuster van Upington, Katrina Jagers (50), vermoor het.
Hy is deur die hof tot staatspasiënt verklaar.
Ovies het die betrokke aand na die verpleegsterswoonstelle by die ou Gordonia-hospitaal gestap, waar hy en ander verpleegpersoneel van die Dr. Harry Surtie-hospitaal gewoon het. Hy het by Jagers en haar seun aangeklop. Sy het die deur oopgemaak omdat sy hom goed geken het. Ovies het Jagers met ‘n mes begin steek. Toe haar seun haar probeer help, het Ovies hom in sy kop, rug en maag gesteek. Ovies het Jagers by die woonstel uitgesleep, haar doodgesteek en haar ingewande verwyder.
Hy is vir waarneming na die West End-psigiatriese hospitaal in Kimberley gestuur.
Die saak is tot 1 Februarie uitgestel. Enigeen met inligting kan speursers. CM Fortuin by 082-495-5305 bel
– Anena Burger