As die Sol Plaatje-munisipaliteit niks doen om die slaggate rondom een van Kimberley se oudste supermarkte te herstel nie, dan spring die supermark-eienaar en personeel self in.
Johan de Klerk, eienaar van OK Foods K&B in Beaconsfield wat dié 70 jaar oue winkel twee jaar gelede gekoop en opgeknap het, het besluit om die slaggate te laat regmaak.
“Die slaggate beïnvloed my besigheid nadelig omdat klante nie bereid is om dit met hul motors in die strate om die winkel te waag nie.
“Ek het die slaggate en waterlekplekke al male sonder tal aangemeld, maar niemand maak dit reg nie al betaal ons maandeliks belasting. Ons moet self ons eie omgewing verbeter.”
Hy het reeds R14 000 bestee om die slaggate in Nealestraat te herstel, en die werk is nie nog klaar nie.
“Ons kan dit net ná ure doen sodat ons nie die verkeer benadeel nie, en die winkel moet aflewerings ontvang.”
Intussen betaal hy ook skoonmakers om die sypaadjies op die straatblok rondom die winkel skoon te maak.
“Hier is ’n woonstelgebou naby ons waar die inwoners hul vullis in oorvol asblikke stort. Die munisipaliteit verwyder dit nie gereeld nie.”
Mariska Swiegers, winkelbestuurder, sê hulle het die goeie nuus dat hulle die slaggate herstel op Facebook geplaas om klante gerus te stel.
“Die slaggate in die strate om die winkel is diep en veelvuldig, só erg dat klante bang is hulle beskadig hul motors. Dit help mos veel jy belê in ’n besigheid, maar die munisipaliteit se versuim om slaggate te herstel skrik klante af.”
Sy sê hulle het die diepste en ergste slaggate in Nealestraat gevul omdat motoriste by die kruising met Mainstraat weens twee diep slaggate nie verby mekaar kon ry nie.
“Een van ons klante het byna die oliekas (sump) aan sy motor afgeruk toe hy deur ’n slaggat ry. ’n Ander een het gesê hy was bang sy wiele buig. Die slaggate in Stanleystraat voor die winkel is die volgende aan die beurt.”
Elders op die kruising van Nealestraat en Dyerplek het slaggate in die teeroppervlak gevorm weens ’n lekkende pyp onder die pad. Swiegers sê sy en ander inwoners het die lekplek ook vele kere aangemeld, sonder sukses.


