Die Slag van Magersfontein word op Sondag 8 Desember met ’n herdenkingsdiens, parade, kranslegging en voorligting oor die veldslag herdenk.
Dié gratis geleentheid om 09:00 by die Burgermonument by Magersfontein word deur AfriForum en die Rapportryerbeweging aangebied.
Lede van die Memorable Order of Tin Hats (Moths), asook ander militêre veterane, sal aan ’n parade deelneem terwyl die doedelsakorkes van die Kimberley Regiment begeleiding verskaf.
Besoeke sal aan grafte van Britse soldate en Skadinawiese vrywilligers gebring word, en voorligtings oor die veldslag sal vanaf die uitkykpunt op die slagveld gedoen word.
Die Slag van Magersfontein het op 11 Desember 1899 plaasgevind en was een van die belangrikste veldslae in die Anglo Boere-oorlog wat van 1899 tot 1902 plaasgevind het.
Gedurende die Slag van Magersfontein het ongeveer 8 000 Boere daarin geslaag om te verhinder dat ’n mag van ongeveer 15 000 Britse soldate onder bevel van lt genl. Lord Methuen, Kimberley van ’n beleg kon bevry wat deur die boeremagte onder leiding van genl. Piet Cronjé uitgevoer is.
Die Slag van Magersfontein is bekend vir die Boeremagte se militêre strategie deur die gebruik van loopgrawe.
Die slagveld by Magersfontein is een van die bes bewaarde slagvelde in Suid-Afrika.
Aangesien Desember gewoonlik baie warm is, word besoekers versoek om voorsorg teen die hitte te tref en sonskerm, hoofbedekking en ’n kampstoel saam te bring.
- Bel Marius Nagel by 083-778-9179 met meer navrae, en bevestig bywoning teen 30 November.





