Vir Griekwas om in die Curriebeker-reeks te speel teen ’n Bul-span wat wemel van brekers was ’n leerskool soos min.
Só sê Pieter Bergh, afrigter van die Poubloues, ná sy span se nederlaag van 27 – 53 op 5 Maart in Kimberley.
Die Bulle is Diamantstad toe met spelers wat in die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) in aksie was. Bismarck du Plessis, Cornal Hendricks en Marcell Coetzee was saam om Griekwas op hul tone te help hou.
“Daar is baie positiewe aspekte wat ons kan neem uit hierdie wedstryd,” sê Bergh.
“As jy teen so ’n sterk span speel, leer jy baie meer as uit ander wedstryde.
“Ek dink die planne wat ons gehad het oor hoe ons hulle wou aanvat, het gewerk. Ons het hulle onder druk gesit. Maar hoe beter jou teenstander is, hoe minder foute moet jy maak.”
Hanru Sirgel (flank) en Rynhardt Jonker (heelagter) was van Griekwas se beste spelers op die aanval. Die 23-jarige Sirgel het ook op die verdediging sy kant gebring met 13 duikslae, volgens statistieke op SA Rugby se webtuiste. Janco Uys (haker) was die span se beste verdediger, met 14 duikslae.
Die Griekwas se volgende Curriebeker-wedstryd sou Woensdag (16/03) in Kimberley teen die Leeus plaasvind.
Intussen berig Hendrik Cronjé dat een van Griekwas se sterre in 2017, Tertius Kruger, “huis toe kom”. Hy sal hom in Augustus by die Griekwas aansluit nadat hy ’n kontrak met dié span gesluit het tot Junie 2024.
Kruger (28) wil sy loopbaan in Kimberley op koers kry nadat daar in 2017 ná skitterspel hoë verwagtinge van hom gekoester is.
Hy is in 2017 uit Kimberley weg na Bloemfontein om tot in 2018 vir die Cheetahs te speel. Daarna het hy tot in 2020 vir die Kings gespeel. In 2020 het hy hom by die HKU Sandy Bay-klub in Hongkong aangesluit, maar kon weens Covid-regulasies slegs drie wedstryde in 18 maande speel. Hy het besluit om terug te kom Suid-Afrika toe.
“Toe ek boonop hoor Pieter Bergh is by Griekwas, was dit nie vir my ’n moeilike besluit om terug te gaan nie.”