Itumeleng Machabe (27) is skuldig bevind op 18 van 19 aanklagte, waaronder die verkragting en moord van Relebohile Segami (11) aan die einde van Maart 2022, wie se lyk hy in die veld in Galeshewe gelos het.
Machabe, voorheen Bendow, het op Woensdag 12 Februarie in die hooggereghof in Kimberley deurentyd uitdrukkingloos voor hom uitgestaar terwyl Cecile Williams haar uitspraak gelees het.
Die hofbanke was volgepak met familielede van die slagoffers en die beskuldigde, asook gemeenskapsaktiviste teen geweld teen vroue en kinders.
Slagoffers mislei, uitgelok, afgedreig
Machabe is onskuldig op poging tot moord op een van sy slagoffers bevind, maar skuldig op haar verkragting op drie wyses; die verkragting van nog ’n meisie; die toon van pornografie aan minderjariges; crimen injuria en bedrog.
Hy het drie skoolmeisies op Facebook mislei en uitgelok om naakfoto’s van hulself aan hom te stuur. Hiermee het hy hulle verder afgedreig om nog meer eksplisiete foto’s en video’s te stuur. Machabe wat voorgegee het hy is ’n gay skoolmeisie, was destyds inderdaad ’n man van 22 jaar. Hy het die skuilname Prudence Femme lvy en Mona Femme Lisa gebruik.
In die uitspraak het die regter die slagoffers en getuies as geloofwaardig bevind. Die een meisie het selfs tien jaar ná haar verkragting nog in die getuiebank gehuil weens die trauma wat sy steeds ervaar. Soos die ander verkragtingslagoffers is sy ook in die veld verkrag, en was sy ’n maagd. Machabe se verweer dat dit met die meisie se toestemming plaasgevind het, is verwerp. Sy gedrag voor, ten tyde en ná die daad waarin hy weggekruip het, weerspreek dit.
Sy weergawe ten opsigte van die pornografie en afdreigingsaanklagtes is oneerlik volgens die regter.
“Sy weergawe laat baie vrae.” Hy het aangevoer die foon wat gebruik is om die meisies op sosiale media af te dreig, was in die besit van sy meisie. Hy het nie geweet waar sy bly of wat haar selfoonnommer is nie. Later het sy weergawe verander in dat sy sy foon weggegooi het omdat sy jaloers was.
Volgens die regter is dit ondenkbaar dat iemand wat gereeld sosiale media gebruik, vir maande nie sy eie foon het nie, maar sy ma s’n by geleentheid gebruik. Van die foto’s wat hy in sy slenter gebruik het, is van homself en van sy familielede.
‘Getuienis verdoemend’
Hoewel daar nie bevestigende DNS-bewyse op die nekdoek en op die liggaam van Relebohile gevind is nie, is die omstandigheidsgetuienis verdoemend.
Die staat het aangevoer op die dag van die voorval het Relebohile en ’n ander meisie en seun agter Machabe aangeloop omdat hy geld aan hulle belowe het. Nadat hy die een meisie gevra het of sy ’n maagd was, het sy weggeloop. Hy het glo gesê hy gaan Relebohile sy vrou maak. Die seun het ook afgedraai. Nadat Relebohile ná middagete weggeraak het, het Machabe by vriende se huis aangekom. Sy klere was vuil en hy was senuweeagtig. Dit sou blyk hy het ’n vriendin versoek om te sê dat hy heelmiddag in hul geselskap was.
Die regter het bevind sy tydlyn en alibi het nie met die gebeure en die getuienis geklop nie.
In haar reaksie op die skuldigbevinding het Jennifer le Roux, Relebohile se tannie, gesê hulle is tevrede dat hy skuldig bevind is en het adv. Krüger vir haar toewyding aan die saak geprys.
“My suster, Shariema Segami, wat haar dogter so wreed aan die dood afgestaan het, ly sedert die voorval aan depressie en moet gedurig behandeling ondergaan. Sy kan nie meer loop nie, en kon nie vandag in die hof wees nie. Ná haar getuienis in die hof het sy ineengesak en van toe af is sy ongesteld. Die stres en spanning keil haar op.”
Die vonnisoplegging is op 18 Februarie.
Adv. Elmari Krüger, kla aan. Adv. Sakkie Nel tree vir Machabe op.


