Dié rooivink skud as te ware sy vere vir die broeiseisoen reg. Baie vinkspesies ondergaan ’n seisoenale kleurverandering sodat hulle in die broeiseisoen helder of meer aantreklike kleure kan hê om ’n maat te lok, skryf onderwyseres en amateurfotograaf Nalene Nel. In die winter het hulle ’n valer kleur, wat hulle met beskerming help omdat dit hulle teen die agtergrond van die valer winterskleure help kamoefleer. Dié rooivink (in Engels bekend as die “Southern red bishop”) is besig om na sy broeigewaad te verveer, wat hom in ’n opvallende helder rooi en swart gaan tooi. Rooivinke kom wyd verspreid in Afrika suid van die Sahara voor, behalwe in die Sentraal-Kalahari van Botswana en in ’n deel van Namibië. Swerms nie-broeiende vinke, wat uit honderde voëls bestaan, kan groot skade aan graangewasse aanrig. Rooivinke is algemeen te sien in tuine waar water- en voerbakke vir voëls is.

Foto: Nalene Nel