Die digter en skrywer Thomas Deacon, wat Griekwa-Afrikaans tot ’n “poëtiese medium in die Suid-Afrikaanse letterkunde” verfyn het, is dood enkele weke nadat sy laaste digbundel einde verlede jaar gepubliseer is.
“Deacon, S.J. Pretorius en Hans du Plessis het verseker dat Griekwa-Afrikaans van die hoofstroom van ons letterkunde deel word,” sê die digter Daniel Hugo.
“Deacon se Die predikasies van Jakob Oerson (1993) is ’n hoogtepunt op hierdie gebied.”
Deacon het ook die leemte aangevul wat George Weideman se afsterwe gelaat het, meen ’n vriend van Deacon, die digter en skrywer Johann Lodewyk Marais.
Deacon (79), ’n boorling van Upington, is op 21 Januarie oorlede. Hy het in sy laaste lewensjare in Gqeberha gebly. Volgens Marais is hy ná ’n siekte oorlede.
In sy vyfde en laaste bundel, Minjonet en bitterbos, wat pas by Naledi verskyn het, besin Deacon oor die oudwordproses en energie wat taan. Hy bied ook nostalgiese herinneringe aan ’n verbygaande tyd. Dit word in ’n nota van die uitgewer beskryf as ’n bundel met “ ’n heuglike inslag van Boerneef se loslittige Afrikaans met ’n voorkeur vir kontreiwoorde en -uitdrukkings”.
Volgens Jeanette Ferreira, wat die bundel vir publikasie gekeur het, word die leser “beloon met van Deacon se heel bevredigendste verse, te meer omdat dit nie net die Griekwa-wêreld verken nie, maar wyer strek om bestek van ’n ganse lewe op te neem”.
Vroeg in Januarie het Deacon nog ’n nuwe gedig wat hy vandeesmaand geskryf het vir die poësiewebblad Versindaba ingestuur.
In lewe het Deacon eers by die Kaaplandse onderwysdepartement as klerk gewerk en later as skoolraadsekretaris in Griekwastad. Hy was ook onder meer hospitaalsekretaris in Burgersdorp voordat hy na Kuruman getrek het om daar as interne ouditeur vir die Edcon-groep te werk. Dit is op sy werkreise waar hy met mense van die kontrei in aanraking gekom het. Die Griekwas se eiesoortige manier van praat het hom in sy skryfwerk geïnspireer.
“Die Noord-Kaapse wêreld waarin Deacon grootgeword het, het ’n sterk pioniersgees gehad,” sê Marais.
“Baie van die nuwe aankomelinge uit ander dele van die land wat by verskillende landbou- en ontwikkelingsprojekte langs die Gariep betrokke was, was nog besig om hul voete te vind en hul taal by ’n nuwe landstreek aan te pas.
“Nadat ek met hom kennis gemaak het, kon ons lekker gesels oor die nedersettings al langs die groot rivier af waar mense saam met hul wingerde, perskes, appelkose, katoen en lusern wortelgeskiet het. My oupa en ouma het ook langs die rivier geboer. Die wel en wee van die pioniersjare is in talle van Deacon se tekste vasgevang.”
Deacon het tot die einde getrou gebly aan die mense en landskap van die streek, sê Marais.
“Hy het ’n hele streek tot spreke gebring. Daarmee het hy voortgegaan om iets van die leemte wat George Weideman se dood gelaat het, weer te vul en verder status aan ’n variant van Afrikaans te gee wat helder en klinkend deel van sy ideolek was.
“Hy was in staat om die landskappe en Griekwa-Afrikaans van die Noordweste in sy werk te betrek en het unieke, lewendige karakters geskep wat in die digbundels Sand uit die son (1989) en Die predikasies van Jacob Oerson (1993), die roman Rooigrond (1995) in Sotho-Afrikaans en die kortverhale in Anderkant die Troe-troe (1999) voortleef.”
Van Deacon se gedigte is op radio voorgelees en opgeneem in onder meer die Groot verseboek, Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte en Die dye trek die dye aan. Sy verhale is ook in versamelbundels opgeneem, waaronder Uit die kontreie vandaan onder redaksie van Abraham H. de Vries.
Met sy aftrede in 1997 het hy en sy vrou, Stienie, hulle weer op sy grootworddorp, Upington, gevestig. Hier het hy hom weer heeltyds aan skryf gewy. Benewens gedigte het hy dramas, romans en kortverhale gelewer. Hy was ook lief vir sing en het liedjies en gesange geskryf.
Volgens Marais was hy besonder lief vir die Amerikaanse sanger Jim Reeves, en het hy net soos dié geklink as hy sing. Deacon het ’n paar CD’s met countrymusiek opgeneem.
Deacon word deur sy vrou en hul twee seuns, James en Stephen, oorleef.
- Deacon het in 2020 aan NoordkaapBulletin gesê dat hy in 1942 in Upington gebore is en aan die Hoërskool Upington matrikuleer het. Hy het gesê hy verlang steeds na die Noord-Kaap, die Boesmanland en die Karoo waar hy van jongs af versot was op stories oor die geheimenisse van die streek.