Pieter Pretorius oorhandig sy boek, Die Ballade van Koos Sas, in April verlede jaar aan koning Khoisan SA by die Uniegebou.

Foto: Dennis Delport

Vir die verfilming van die boek Die Ballade van Koos Sas word daar nou na onder meer ’n hoofakteur gesoek.

Pieter Pretorius, skrywer, vertel in die boek die lewensverhaal van Koos Sas, en probeer so ’n deel van die Khoisan se geskiedenis vertel, “want hul regte word nie erken nie,” sê hy.

Die rolprent is tans in die voorproduksiefase en volgens Pretorius sal die hoofakteur ’n Khoisan-man van ongeveer 23 tot 25 jaar oud wees.

“Daar sal oor die land heen na die geskikte akteur gesoek word.”

Verfilming sal volgens beplanning teen die einde van die jaar in die Oos-Kaap begin.

Omdat musiek ook in die film gebruik gaan word, word Khoisan-musikante wat tradisionele musiekinstrumente kan bespeel, ook benodig.

In April verlede jaar het Pretorius ’n kopie van die boek aan koning Khoisan SA, leier van die Khoisan, by die Uniegebou in Pretoria oorhandig, het Dennis Delport op Netwerk24 berig.

Die koning het toe aan Pretorius gesê dat die boek hoop bring aan die Khoisan-gemeenskap, wat nou al dekades sukkel om erkenning as die eerste nasie van Suid-Afrika te kry.

“Dit raak seer wanneer die ware storie vertel word, maar dit is wanneer ons genees,” het Koning Khoisan SA gesê.

Sas was glo ’n berugte skaapdief wat later, so word vertel, ’n seun van ’n predikant doodgemaak het. Hy is keer op keer gevang, maar het telkens ontsnap.

Sas is nooit in ’n hof aan enige misdryf skuldig bevind nie, maar is deur die destydse owerhede “voëlvry” verklaar.

Daarna is hy soos ’n “wilde dier” gejag en op 8 Februarie 1922 naby Springbok doodgeskiet. Sy lyk is in die veld gelaat vir wilde diere en aasvoëls, hy is onthoof en later is sy skedel in ’n glaskas in die Montagu-museum uitgestal. Die skedel is glo nou weer in besit van die Khoisan-gemeenskap.

Pretorius, ook ’n rolprentmaker en draaiboekskrywer, het aan Delport vertel dat hy byna drie jaar lank navorsing gedoen het. Namate die produksie ontwikkel, sal meer inligting bekend gemaak word.

  • Mense wat meer oor die produksie wil weet, en in ’n rol belang stel, kan ’n e-pos na pretoriu@iafrica.compretoriu is reg stuur en ’n foto aanheg. Vir meer inligting oor die boek, besoek peglegproduction.co.za/Die Ballade van Koos Sas.

Die boek Die Ballade van Koos Sas gaan nou verfilm word, en daar word na ’n hoofakteur gesoek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article