Sy woon in Wuppertal, die tuiste van rooibostee, het grootgeword met rooibostee, boer al ses jaar deeltyds met rooibos en is nou die wêreldrekordhouer in die maak van die meeste koppies tee in ’n uur – 249.
Ingar Valentyn (35) het natuurlik rooibostee gemaak toe sy in Augustus dié Guinness-wêreldrekord opgestel het.
Valentyn sê sy hoop die rekord sal toerisme op die dorp ’n hupstoot gee, veral ná die brand op 31 Desember 2018.
Meer as 200 mense is dakloos gelaat en haar ouerhuis is in puin gelê. Sy het in die munisipaliteit se toerismekantoor gewerk waar sy gastehuise bestuur het, maar haar werk verloor omdat al die gastehuise deur die brand beskadig is.
“Hier is nie baie werk in Wuppertal nie. Dit was moeilik om oor te begin,” sê Valentyn, wat intussen weer werk gekry het.
Omdat werk so skaars is, boer baie van die mense met rooibos en dit het haar aangemoedig om op die vorige rekord – 150 koppies tee – te verbeter.
“Ek het nie geoefen nie. Dit het maar net natuurlik gekom. Ek was kalm,” sê Valentyn.
Valentyn sê sy het drie soorte rooibostee gemaak – gewone rooibostee, vanielje- en aarbei-gegeurde rooibos.
Die tee is ook nie gemors nie en deur leerlinge van die Wuppertal Moravian Primary School en inwoners geniet.
Om die rekord te verbeter het Valentyn vier teesakkies in ses teepotte gesit wat vier koppies tee per pot lewer. Elke teesakkie moes minstens twee minute trek. Sy het die eerste drie potte tee geskink en dan vinnig na die volgende teepotte beweeg.
Valentyn sê die leerlinge het ingespring en koppies gewas toe die 150 koppies opraak.


