‘n Toeris van Gauteng wat die afgelope naweek op lede van Die Voortrekkers, Landsdiens, AfriForum en die Rapportryerbeweging afgekom het wat die Burger-monument op Magersfontein skoonmaak, was so beïndruk dat hy dadelik sy beursie leeggemaak en die geld aan hulle geskenk het.
Die monument is ter nagedagtenis van die burgers wat hier in die Anglo-Boereoorlog (ABO) gesneuwel het, opgerig.
Volgens Marius Nagel, koördineerder van die projek, lid van die Rapportryerbeweging en bestuurlid van AfriForum Kimberley, gaan die betrokke toeris jaarliks geld skenk om monumente te onderhou. Dit benadruk die erns om monumente te onderhou.
“Die departement van sport, kuns en kultuur in die Noord-Kaap en die Vrystaat pleit armoede en ‘n gebrek aan personeel om monumente te onderhou. Dit sluit alle kultuurhistoriese monumente in, soos bv. die Robert Sobukwe-huis in Galeshewe. Gewone Suid-Afrikaners moet ons monumente onderhou, want die staat gaan nie.
“Dit was insiggewend en verblydend dat die jeugdiges wat gehelp om die Burger-monument skoon te maak, hul volgende uitstappie na die Magersfontein-slagveld beplan. Hulle wil na die koppe, skanse en loopgrawe gaan om die slagveld te ervaar.
“Hulle wil sien waar die penkoppe gedurende die oorlog geleef, na die perde omgesien en vleis vir die magte gebraai het. Sodra mense in die geskiedenis belangstel, word die skoonmaak as opvoedkundige projek meer betekenisvol.
”Hulle maak die Burger-monument gewoonlik in die winter en in November voor die toerisme-seisoen skoon. Op die terrein word gras gesny en bome gesnoei.
“Nog ‘n projek is die opknapping van die Perdeberg-monument waarby die Oorlogsmuseum in Bloemfontein en die Perdeberg-boerevereniging betrokke is. Die verslete inligtingsbord is verwyder en word oorgemaak. Die boere gaan die terrein gelyk maak, bome en gras sny en met bouwerk help. Die ingang en hekke word ook herstel. Die opknappingsprojek sal in Februarie volgende jaar onthul word net voor die 123ste herdenking van die oorgawe van genl. Piet Cronjé aan die Britse magte tydens die ABO.”
Nagel sê hy onderhandel met ander ABO-geesdriftiges om in November ook ander monumente in die Magersfontein- en Modderrivier-omgewing skoon te maak, wat Engelse monumente en die Skandinawiese grafte op Magersfontein insluit.
Hul projekte dra tot die bevordering van toerisme en gepaardgaande ekonomiese voordele by.





