
Puik spel gelewer
Vir die agtste jaar opeenvolgend is ‘n suksesvolle o.23-Bokkietoernooi in Orania aangebied. Uithalerspel is op 2 en 3 Mei deur spelers van die deelnemende unies in rugby, netbal en hokkie gelewer.
“Die kompetisie was straf, met uitslae waar onder meer die sewesrugbyspanne telkens binne tien punte van mekaar was. Dit is ‘n bewys van die hoë standaard waarop die toernooi gespeel is,” sê ds. Peter Stans, uitvoerende hoof van Bokkieweek.
By die sewesrugby het Noord-Transvaal koning gekraai nadat hulle Vaaldriehoek met 26 – 5 geklop het.
In die netbaleindstryd het Vaaldriehoek vir Noord-Transvaal met 19 – 15 geklop. In die Woemahokkie het Vaaldriehoek in ‘n spannende eindstryd gelykop teen Wes-Transvaal geëindig. Die wenner is daarna met uitskiete van agt sekondes bepaal. Vaaldriehoek het met 2 – 0 gewen.
Die eerste beplanningsvergadering vir die o.23-Bokkietoernooi vir 2026 het reeds plaasgevind.
Spelers vanuit 16 unies neem aan die Bokkie-week-geleenthede plaas. Dié unies is onder meer Griekwas, Vrystaat, Noord-Vrystaat, Stellaland, Vaaldriehoek, Wes-Transvaal, Transvaal, Oos-Transvaal, Suidoos-Transvaal, Noord-Transvaal, Hoëveld en Natal. Vir die pas afglope o.23-Bokkietoernooi het Griekwas as gasheerunie opgetree.
Vanaf 7 tot 11 Julie vind die jaarlikse Bokkieweek in Naboomspruit plaas, en die Somerweek van 7 tot 11 Oktober in Meyerton. Vir meer inligting, besoek bokkieweek.co.za.




Van die spanne wat deelgeneem het, is van links bo: Vaaldriehoek se o.23-netbalspan (wenners), ‘n o.23-span van Wes-Transvaal, die Woemahokkie se o.23-span (wenners) en Vaaldriehoek se o.23-7’s rugbyspan (naaswenners). Foto’s: Verskaf
You must be logged in to post a comment.