Die Hoërskool Waterkloof se agtsteman, Zander Thirion, rond sy drie af in die wedstryd teen die Hoër Tegniese Skool Drostdy.

Foto: Frans Lombard

Kimberley was die afgelope week of wat ’n miernes van bedrywigheid met skolesport­spanne wat vir die Absa Wildeklawer-skolesport­toernooi in die stad saamgetrek het.

Die toernooi is die eerste keer sedert 2019 aangebied en het vanjaar glo ’n rekordgetal van meer as 40 000 besoekers getrek.

Ongeveer 4 500 leerlinge van 85 skole het aan rugby, netbal en, as ’n nuutjie, aan sokker tydens die toernooi deelgeneem.

Maandag (02/05) is die hoofrugbywedstryd van die toernooi op die hoofveld van die Hoërskool Diamantveld tussen Grey-kollege van Bloemfontein en Paarl Gimnasium gespeel.

Wim Pretorius berig dat Paarl Gimnasium die eerste keer in sy geskiedenis twee keer agtereen­volgens met Grey-kollege van Bloemfontein afgereken het.

Dié titaniese stryd het die kroon op die laaste dag van die Wildeklawer-rugbytoernooi gespan, met Gimmies wat baas was met 22 – 17.

Ook het die netbalspan van die Hoër Meisieskool Paarl Maandag die kroon gespan op sy merkwaardige vertoningslys deur met die louere as kampioen van die Wildeklawer-netbaltoernooi weg te stap.

Die Paarliete het een van hul beste vertonings vir laaste gelos deur die Afrikaanse Hoër Meisieskool van Pretoria in die eindstryd met 22 – 13 ore aan te sit.

Die span, wat vanjaar in sy nagenoeg 35 wedstryde onoorwonne is, het in geen stadium die voet van die versneller gehaal nie, skryf Pretorius.

In die sokkertoernooi is die span van HTS Louis Botha van Bloemfontein die wenner nadat hy die span van die Clapham High School in Pretoria met 4 – 3 geklop het.

Vir volledige uitslae, besoek die Facebook-blad Wildeklawer Sport.


Sportredaksie

You need to be Logged In to leave a comment.