Skole in Kuruman het van AfriForum se Kuruman-tak hulppakkette ontvang.
Dié verspreiding is deel van die #afriforumstaansaam vir Skole-projek wat in samewerking met AfriForum Jeug van stapel gestuur is.
Die hulppakkette bevat Covid-19-inligtingstukke, patrone vir gesigmaskers, klaskamerplakkate, elektroniese termometers, handreiniger en handreinigerstaanders.
Sover is pakkette aan die Laerskool Seodin en die Laerskool Kuruman voorsien. Die Laerskool Savanna en die Hoërskool Kalahari gaan ook binnekort pakkette ontvang.
Deon de Jager, AfriForum se hoof vir die suidstreek, sê dit is ’n voorreg om skole in hierdie tyd by te staan sodat hulle voorbereid is om die akademiese jaar voort te sit.
“Skole het nie vir hierdie ekstra uitgawes begroot nie, en daarom is dit vir AfriForum belangrik om skole te ondersteun,” sê hy.
Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari, sê AfriForum het baie versoeke van skole ontvang. Daarom het AfriForum se plaaslike takke in die Kalahari aan die skoleprojek deelgeneem om te verseker dat leerlinge veilig na skole kan terugkeer.
“Al die skole is baie dankbaar vir die steun wat hulle ontvang,” sê Strauss.
“Dit is ’n riem onder die hart om te sien hoe almal saamspan om die beste van die situasie te maak.”
AfriForum het reeds meer as 40 000 bottels handreiniger, 8 000 plakkate en 200 termometers aan skole oor die land heen versprei.