Mense so jonk soos 16 jaar myn met drukbore in lewensbedreigende, mensgemaakte tonnels wat onwettig in diamantryke mynterrein van De Beers in Namakwaland gegrawe is; tonnels wat enige oomblik kan meegee.
Dié stelling is in ‘n eedsverklaring wat die batebeslagleggingseenheid van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die hooggeregshof in Kimberley ingedien het om op een van die vermeende onwettige delwers se voertuie beslag te lê. Die voertuig word eersdaags op ‘n veiling verkoop omdat dit glo in die uitvoering van ‘n misdaad gebruik is.
William Klaasen, ‘n vermeende onwettige myner, se swart Nissan Navara-bakkie is in Desember 2021 deur die hof verbeurd verklaar en word op ‘n veiling verkoop. Dit kom ‘n jaar nadat De Beers ‘n interdik teen die onwettige mynbedrywighede bekom het. Die bedrywighede het sedert Oktober 2020 ernstig toegeneem.
In sy verklaring sê Jacobus Smit, ‘n ondersoeker van die batebeslagleggingseenheid, dat hy onwettige mynbedrywighede in die Port Nolloth-omgewing in samewerking met die polisie ondersoek. De Beers, die polisie en balju het die interdik en hofkennisgewings in plastieksakkies op kennisgewingsborde sowat 5 m van die grensdraad op De Beers se plase Oubeep, Tweepad en Sandkop geplaas waar dit sigbaar vir die publiek is.
Op 26 en 27 Januarie 2021 het die polisie, balju en De Beers se sekuriteitspersoneel op die delwers toegeslaan. Altesaam 51 delwers en ses voertuie, onder meer die swart Nissan Navara, is aangetref. Daar was ook kragopwekkers en ander toerusting. Die kragopwekkers word gebruik word om elektrisiteit aan die drukbore en vir ligte in die donker tonnels te verskaf. Drukbore word gebruik om in diamantryke grond te boor, wat die delwers in sakke op die voertuie laai en elders sif.
Die delwers is in hegtenis geneem en beslag is op die voertuie gelê. Die beskuldigdes is in die hof in Port Nolloth van onder meer onwettige mynbedrywighede, saakbeskadiging en die betreding van eiendom aangekla.
Klaasen, een van die beskuldigdes, se Nissan Navara-bakkie wat in Desember 2019 op sy naam registreer is, is in Augustus en September 2020 op De Beers se mynterrein afgeneem. Die eienaars van die ander voertuie was glo nie daarvan bewus dat hul voertuie vir onwettige mynbedrywighede gebruik word nie.
Fischer het ook ‘n verklaring ingedien oor wat hy op die mynterrein vind. Hy sê hulle het op ‘n tydstip ‘n 16-jarige in die tonnels gevind, besig om met ‘n drukboor te werk. Die mynbedrywighede is kommerwekkend vir De Beers weens die gevare dat die tonnels op mense kan inval.
Volgens hom is daar geen stutte in die tonnels nie, wat dit baie onstabiel maak. Dit kan enige oomblik om mense toesak en hulle versmoor.
De Beers stoot gereeld die tonnels toe en vul dit met sand en rotse om die terrein veilig te maak.




