Haar man sou sonder teëstribbeling hul onderneming se geld aan sy moordenaars oorhandig het, sê Lizette Visser (68), wie se man, Gerhard (68), ’n ou bekende in Noord-Kaapse en Vrystaatse regskringe, in Christiana doodgeskiet is.
Sondagoggend (09/10) het ’n groep gewapende aanvallers tien skote op Visser, ’n sakeman en voormalige staatsaanklaer in Bloemfontein en later adjunk-prokureur-generaal in die Noord-Kaap, geskiet.
Hulle het hom verskeie kere in die bors getref voordat hulle met kontant weggekom het.
Lizette sê sy en Gerhard is Sondagoggend na die Shark Attack-taverne in Geluksoord in Christiana om die nag se geld te kry. Die egpaar het saam die taverne en ’n algemene handelaar aangrensend tot mekaar bedryf.
Visser het die geld geneem en gesê hy gaan solank in die bakkie wag. Lizette was binne om ’n lysie te maak van die voorraad wat vir die winkel aangekoop moes word.
Sy moordenaars was reeds weg toe sy buite kom. Gerhard het swaar gewond langs die bakkie gelê. Hy het geweet hy is sterwend en het aan Lizette gesê hy is lief vir haar en haar bedank vir al die jare wat hulle saam was. Hulle was 45 jaar getroud.
“Hy het ook gesê hy is lief vir die kinders en kleinkinders voordat hy dood is.”
Volgens haar het hy nog sowat 15 minute lank geleef.
Die egpaar het twee dogters, Elene de Beer en Marianne Vermaak, en vier kleinkinders.
Lizette sê die polisie, plaaslike veiligheidsgroepe en boere het ’n groot soektog na die moordenaars van stapel gestuur, maar niemand is nog in hegtenis geneem nie.
Gerhard het vroeg afgetree en die egpaar het hul pensioengeld in die sakeonderneming belê.
Hulle woon die afgelope 17 jaar in Christiana.
De Beer sê haar pa het in sy loopbaan geveg vir reg en geregtigheid en mense het hom as ’n ware heer beskou.
Theo Gerber, DA-raadslid in Christiana, sê Visser het vir hom gesê hy is bekommerd want hy weet dit is gevaarlik om die taverne se geld te gaan haal. Hy sê die hele gemeenskap was Sondag op die uitkyk vir die moordenaars.
Dit was te winderig om met hommeltuie na die aanvallers te soek, maar die polisie het ’n vliegtuig beskikbaar gestel. Die aanvallers het glo aanvanklik te voet gevlug, later met ’n minibustaxi gery en toe weer naby ’n voerkraal in die veld in gehardloop. Die boeregemeenskap het Sondag tot skemer na die moordenaars gesoek.
Lt kol. Amanda Funani, ’n polisiewoordvoerder, sê volgens ooggetuies was daar vier aanvallers, wat almal ’n swart uniform met ’n geel streep op die baadjie gedra het.
’n Gedenkdiens word vir Saterdag beplan.


