Die 40ste wenner van die Matrikulant van die jaar-kompetisie van die Universiteit van die Vrystaat (UV), Netwerk24 en Volksblad sê sy eerste jaar as mediese student aan Kovsies het tot dusver alle verwagtinge oortref en hy geniet elke oomblik terdeë.
Inskrywing vir dié kompetisie, waarin 25 matrikulante pryse en beurse van duisende rande kan wen, is reeds oop.
Niël van der Walt, 2021 se hoofseun van die Hoërskool Wesvalia in Klerksdorp, sê dit was vir hom ’n groot voorreg om aan die kompetisie te kon deelneem.
Hy het sy hart op Bloemfontein verloor.
“Bloemfontein is goed vir my. Dis ’n stad, maar nie soos Pretoria nie. Ek voel só tuis hier.”
Hy het hom by ’n dagkoshuis aangesluit om ander studente as sy klasmaats te ontmoet en is reeds by ’n kerkgemeenskap ingeskakel, want “Bloemfontein is meer as die universiteit en akademie”.
Hoewel Niël uit ’n familie van medici kom – sy pa, oupa en oom is almal dokters en oud-Kovsies – was sy kleuterdroom om ’n rugbyspeler te word. Vanweë sy liefde vir wiskunde wou hy later aktuaris word, en nadat hy die regsreeks Suits gekyk het, het die regswêreld aanloklik gelyk. Toe dit egter tyd raak om aansoek te doen om toelating, was hy seker dat hy ’n dokter moes word.
“Alles het tot dusver goed uitgewerk volgens die Here se plan,” sê Niël.
Skryf jou nou in
Matrikulante wat nie net akademies presteer nie, maar wat ook by kultuur, sport en leierskap by hul skole betrokke is en wat beoog om in 2023 heeltyds aan die UV te studeer, kan hulle inskryf. Matrikulante van oor die land heen kan hulself inskryf.
Alle inskrywings word volgens vaste kriteria beoordeel en 25 semifinaliste word aangewys. Altesaam 14 finaliste, wat uit die 25 gekies word, neem aan die Matrikulant van die Jaar-eindronde, van 4 tot 6 Oktober in Bloemfontein, deel.
Die wenner en 13 finaliste ontvang prysgeld van die borge Kovsie Alumni-Trust, Mazars, Absa en Pick n Pay Preller Walk, beurse van UV Studentewerwingsdienste, bywoning van die eindronde-geleentheid in Bloemfontein en ontvang geskenke ter waarde van R10 000.
Die ander 11 semifinaliste ontvang prysgeld van Kovsie Alumni-Trust en beurse van UV Studentewerwing.
Inskrywings moet die UV voor of op 5 Augustus bereik. Vir inskryfvorms of inligting stuur e-pos aan Linda Greyling by greylinl@ufs.ac.za.


