Ek het vir hom die wêreld se respek. Hy is sterk bejaard; ’n leeftyd se ervaring agter hom.

Wat hy geleer het, lê oor baie dekades versprei.

Hy dink voordat hy praat.

Ons staan langs die kerk, onder die groot ou vyeboom. Hy vryf oor sy ken.

Ons praat oor ’n paar dinge wat moet verander om ’n beter konteks te skep. Dinge makliker te maak.

“Skep net eers orde.”

Dit is sy volkome opsomming van die hele saak. Hy verduidelik so mooi en sag – dog duidelik en treffend.

Ons hele lewe, geslag tot geslag, se stryd is teen wanorde.

Teen deurmekaar.

Teen chaos.

Begin klein, skep net eers orde. Waar orde is, is nie chaos nie. Waar orde is, is vrede. Waar orde is, kan ’n mens dink en kreatief bou. Vorentoe gaan.

Saam met orde kan daar groei wees.

Orde verander alles om jou.

Leer die mense om net eers die chaos om hulle – dit waaroor hulle beheer het – te verander.

As almal leer om net orde om hulle te skep sal die chaos minder wees.

Soos hy verduidelik, sien ek ’n prentjie in my gedagtes van orde teenoor wanorde, van chaos teenoor vrede. En ek hoor hom.

Dalk moet ons almal begin en net eers besef ons moet orde skep. Ons moet wanorde teëwerk. Hoe meer ons dít regkry, hoe meer gaan daar vrede om ons kom.

Ons het ’n keuse tussen orde en wanorde – laat ons skeppers van orde wees.

You need to be Logged In to leave a comment.