Merwewille is een van die 15 dorpe wat reisigers as deel van die skattejag kan besoek.

Foto: Facebook/Ons Karoo en Kontrei

Om dit makliker vir reisigers te maak – selfs die rusbankreisiger – om die oorvloed plekke in die Karoo en sy omliggende platteland te verken, sal Bossie Goud Skattejag help om dié skatkis met inligting, ervaring en mense so stukkie vir stukkie te ontdek.

“Ons skatte is nie net ons ooptes en besienswaardighede nie, maar ons entrepreneurs speel ook ’n kritieke rol in die platteland se oorlewing,” sê Adri Smit, stigter en algemene doener van Ons Karoo en Kontrei, wat die skattejag aanbied.

Deur aan die skattejag deel te neem het deelnemers nie net ’n kans om een van talle geskenkpakke met plaaslike produkte uit die omgewing te wen nie, maar kan hulle ook bydra tot bepaalde projekte in elk van die 15 dorpe en omgewing waarheen die skattejag lei.

Dié projekte sluit ’n verskeidenheid projekte in, van die installering van sekuriteitskameras op die platteland tot die sterilisering van troeteldiere.

Skattejag lei deur 15 dorpe

Dorpe waardeur die skattejag deelnemers lei, is: Beaufort-Wes, Calitzdorp, Calvinia, De Rust, Hofmeyr Merweville, Pofadder, Prieska, Springbok, Steytlerville, Vosburg, Williston, Rietbron, Willowmore en Van Wyksdorp.

Smit sê omdat die skattejaggebied so groot is, sal deelnemers waarskynlik nie al die dorpe kan besoek nie. Vir dié rede kan die skattejag ook aanlyn op die webtuiste voltooi word.

Die ligging van die 15 dorpe wat deel van Bossie Goud Skattejag is.

Deelnemers wat die dorpe besoek, kan selfies by bepaalde punte neem om nog meer punte te verdien. Verdere punte word verdien deur ondernemings wat by die skattejag betrokke is te ondersteun. Dit sluit selfs in om by ’n bepaalde gastehuis of -plaas oor te slaap.

Deelnemers kan boonop 200 punte verdien deur te help om ’n versteekte boodskap in die joernaal van ene Gottlieb Brand te ontsyfer, wat alles op Bossie Goud Skattejag se webwerf te vinde is.

Gottlieb Brand se joernaal is gegrond op die mitiese formule van die Griekse alchemis, Cleopatra, wat glo geweet het hoe om elemente in goud te omskep.

Brand het blykbaar sy bevindinge in sy joernaal versteek, en dit kan stuk vir stuk gevind word deur sy stories in die vorm van joernaalinskrywings by elk van die 15 dorpe te lees.

Deelname versterk projekte in dorpe

Die skattejag duur tot 31 Mei, en daar is geen vaste volgorde waarin punte besoek moet word om dit te voltooi nie.

Deelnemers kan hulle teen R150 as ’n vriend registreer – 30% hiervan word na die Kameraadskapfonds oorgedra om bestaansboere in die droogtegebiede te ondersteun. Al die inligting is ook in Engels beskikbaar.

Ná registrasie, werk deur die vrae en opdragte onder die 15 verskillende dorpe, soos op die webtuiste te kry, en neem foto’s, waar toepaslik. Ontvang bonuspunte deur feeste en geleenthede by te woon, en entrepreneurs en verskilmakers te ondersteun.

Besoek ook die Facebook-blad of webtuiste van Ons Karoo en Kontrei, wat ’n waardevolle bron van inligting van besienswaardighede, eetplekke, verblyf, gebeurtenisse, produkte en meer is.

“Jou avontuur, al is dit net van die huis af, maak ’n verskil in die platteland,” sê Smit.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article