‘n Sedanmotor is Dinsdagaand 29 Julie “feitlik afgeskryf” nadat dit ‘n diep gat in ‘n straat in Kimberley getref het. Na bewering was werkers van die Sol Plaatje-munisipaliteit in dié gat op die hoek van Schmidtsdrift- en Silsonweg besig om ‘n gebarste waterpyp te herstel toe die ongeluk omstreeks 23:30 gebeur het.
Na bewering is ‘n munisipale werker wat in die gat van ongeveer 1,5m diep en 1,5m breed gewerk het, deur die motor getref. Die omvang van sy beserings is op die stadium nie bekend nie; wel dat dit nie noodlottig was nie.
Die bestuurder van die motor, wat glo alleen gery het, is blykbaar nie ernstig beseer nie. Van die werkers wat by die herstel van die waterpyp betrokke was, maar nie in die gat gewerk het nie, het glo van skok weggehardloop maar later teruggekeer.




Volgens omstanders was enkele oranje verkeerskegels as waarskuwingstekens in Schmidtsdriftweg – vanuit die stad se rigting – opgerig om motoriste oor die gat en herstelwerk in te lig. Die motoris het vanuit die teenoorgestelde rigting – die N8 – gery en vanaf dié rigting was geen waarskuwingstekens glo opgerig nie.
Volgens sers. Molefi Shemane, polisiewoordvoerder, was lede van die polisie omstreeks 23:49 by die ongelukstoneel in Schmidtsdriftweg. Shemane bevestig dat ‘n motor in ‘n gat ingery het waar werkers van die Sol Plaatje-munisipaliteit besig was om ‘n gebarste waterpyp te herstel. Shemane sê die motor is beskadig, maar geen beserings is aangemeld nie. ‘n Ongeluksverslag is oopgemaak, en word tans ondersoek.
- Die Sol Plaatje-munisipaliteit is ook vir kommentaar oor die voorval genader. Die kommentaar sal bygewerk word sodra dit ontvang is.
- Inligting en foto’s verskaf deur Gustav Lombaard, vryskutjoernalis, Eagle Eye Photography Kimberley, 063 795 3320.



You must be logged in to post a comment.