Om ’n skaaptrek te voet mee te maak, is ’n staptog soos geen ander belewenis nie. ’n Egpaar van die Loeriesfontein-omgewing in die Noord-Kaap nooi lede van die publiek om presies dit met hulle te beleef.

Foto: Facebook/Op Vakansie Boerdery

’n Staptog soos geen ander, waar elke dag ’n avontuur is om agter honderde skape aan te stap terwyl ’n mens jou verbintenis met die natuur herontdek, word beleef tydens die somer- en winterskaaptrek wat lede van die publiek nou saam met ’n boer en sy vrou van die Loeriesfontein-omgewing kan meemaak.

“Ons doen dit omdat dit vir ons lekker is,” vertel CJ Badenhorst van die plaas Klein Dikpens in die Boesmanland, ongeveer 105 km van Loeriesfontein, die naaste dorp.

Vanjaar het hulle tydens die Op Vakansie Boerdery se winterskaaptrek lede van die publiek saamgeneem. Voorheen was dit nog net vriende en familie wat dit meegemaak het. 

Oor die unieke konsep vertel Badenhorst dat hy al baie lank ’n gedagte het om dit te doen, want vir “my wat skaaptrekke nie geken het nie, was my eerste trek absoluut ’n unieke ervaring wat ek nooit sal vergeet nie. 

“Ek wil dit graag met ander deel. My vrou het nog altyd gekeer omdat sy onseker was of ons deur alle uitdagings wat ’n trek soms kan inhou nog vir vreemde mense wat dit glad nie ken nie, kan regstaan, en omdat geriewe primitief is.”

Die Badenhorst-egpaar van die Loeriesfontein-omgewing se kinders maak telkens die skaaptrek mee.

Maar die afgelope winter het lede van die publiek hierby aangesluit, en saam met die skape oor ongeveer 180 km te voet getrek vanaf die somer- na winterweiding. Dit het 12 dae geduur. 

Eersdaags, in November, vind die somer­skaaptrek plaas, en dié avontuur kan teen betaling meegemaak word. 

“Dis ’n spanpoging tussen my en Lizri om alles mooi te laat verloop. Natuurlik deel ons twee kindertjies in die avontuur. Elena het vanjaar haar vyfde verjaarsdag tydens die winterskaaptrek gevier en André word drie jaar oud tydens die somertrek in November. My skoonpa kom kuier gewoonlik tydens ’n skaaptrek. Hy is ’n bobaas­storieverteller,” vertel Badenhorst.

Skape bepaal die pas

Vanjaar se somerskaaptrek duur twee weke, en word in twee gedeel met die skape wat vir twee dae in die middel van die trek rus. Die eerste deel is van 4 tot 11 November, en die tweede van 13 tot 20 November. 

Die trek met ongeveer 800 skape begin op die plaas Gemsbokrivier in die Knechtsvlak, wat deel van Namakwaland is, na die plaas Dikpens in die Boesmanland. Daar word deur die Soutrivier getrek, verby dadelboorde, wat soos ’n oase in die droë landskap lyk, verby Lospersplaas en dieper die Boesmanland in.

Die skape bepaal die pas waarteen gestap word, maar ongeveer 15 km word per dag gestap. 

“Ons trek hoofsaaklik op openbare ‘groot’ grondpaaie, maar soms moet ons deur ’n boer se plaas trek, wat vooraf gereël word,” vertel Badenhorst. 

d

Soggens word vroeg weggespring, sodra dit lig word. Oor die hitte van die dag word gerus en namiddae word gestap tot waar kamp opgeslaan word. Mense wat die trek meemaak, hoef nie die hele pad te stap nie; twee voertuie is beskikbaar vir wanneer iemand moeg word, en om bagasie te vervoer.

“Ons jaag nie die skape aan nie, ons jaag net die ‘agterosse’ bietjie aan om hulle by die trop te hou. Die skape stap teen hul eie pas. Hulle loop vreeslik stadig of gaan staan selfs as hul moeg is.”
CJ Badenhorst

“As lammertjies saamtrek, sien ’n mens baie duidelik wanneer hulle moeg word en agter raak. Dan gee ons hulle maar ’n saamrygeleentheid.” 

Die eerste dag of twee word die skape effens terug gehou, want hulle is dan vol energie en kan maklik te ver loop en voetseer kry.

Tydens ’n trektog stap die skape glo min of meer dieselfde afstand per dag as wanneer hulle ’n volle dag in die veld wei. Omdat hulle so wei-wei aanstap, vreet hulle meestal genoeg. 

Waterpunte word vooraf met boere gereël.

“Die boere is oor die algemeen vreeslik gaaf, so ons is baie dankbaar daarvoor,” sê Badenhorst.

Daar word gepoog om die skape elke aand in ’n soort kraal te laat slaap, maar dit is nie altyd moontlik nie. Dan is dit “boer maak ’n plan.” 

“Ons maak byvoorbeeld ’n hek voor hulle toe en slaan ons tentjies in ’n ry agter hulle op. Of ons laat staan hulle en vat skofte om hulle op te pas sodat hulle nie wegloop nie. 

“Skape leer vinnig dat hulle snags moet lê en nie rondloop nie. Jakkalse is darem nie ‘n probleem tydens ons trekke nie.”

Die vier skaaphonde wat altyd saamgaan, help ook om die skape in toom te hou.

“Ek het in die Noordwes grootgeword, maar hierdie wêreld het my hart gesteel. Ek het dit glad nie geken om te trek nie, maar dis in ’n mens se bloed! Alles wat ek van trek weet het ek by my skoonpa en deur ondervinding geleer. Hy is op die trekpad gebore,” vertel Badenhorst. 

s

Skaaptrek skakel probleme uit

Badenhorst vertel dat die beskikbaarheid van weiding hoofsaaklik deur die reënval bepaal word. Die meeste boere in die omgewing verskuif hul skape in die winter na winterweiding en in die somer terug na die somerreënvalstreek toe. 

“Maar dit word uitsluitlik deur die beskikbare weiding bepaal. Dit is byvoorbeeld nie die moeite werd om die skape na die winterplaas te skuif as daar nie weiding is nie. 

“Dan voer ons eerder die skape op die plaas waar hulle is, sou dit nodig wees.”

Die verskillende troppe skape word ook nie altyd almal saam geskuif nie. Indien dit wel gedoen word, word al die ooie en lammers bymekaar geplaas en word die ramme uitgehaal. Die ramme word dan ná die tyd gaan haal. 

“Soms tydens die skaaptrek is daar ’n ooi wat lam en dan is ons genoodsaak om ’n bietjie met die skape te rus en die ooi kans te gee om te lam, die lammetjie skoon te lek, en te laat drink.”
CJ Badenhorst

“Hoe sterk die lammetjie is verskil van lam tot lam en of die ooi vet of skraal is. As ‘n ooi skraal is, is die lammetjie gewoonlik meer verbog. 

“Party lammetjies kan ’n gedeelte van die dag saamloop, ander moet eers ’n dag of twee saamry. 

“Ons laai die lammers op en in die middae en saans gee ons hulle vir die ooie. Dis nogal soms ’n missie om ma en kind bymekaar te kry tussen al daardie skape!”

Badenhorst is van mening dat om die skape op dié manier te verskuif, teen ’n pas wat die diere bepaal, sekere probleme uitskakel soos ooie wat die lammetjies verwerp, en ooie wat in vroeë dragtigheid die fetusse herabsorbeer. 

d

Slaan eie tentjie op

Die enigste verpligting wat stappers het is om hul tent op en af te slaan, maar hulle is welkom om te help waar nodig, soos met kosmaak.

Tydens die trek is geen vaste roetine nie. Die belangrikste is dat die skape reg is om te loop sodra dit lig word soggens, veral in die somer waar dit in die middae baie warm is. 

Stappers moet beddegoed (kussing en slaapsak); gemaklike klere (ook warm klere); stapskoene; hoed (’n pet word voorsien); klein rugsakkie vir jou waterbottel; kopliggie of flits; handdoek; toiletware; en peuselhappies saamneem. 

’n Tentjie met ’n matrassie; stoele; eetgerei; ontbytgraan, koffie of tee en beskuit in die oggend; middag- en aandete; vrugte, soos verkrygbaar; water, koffie, tee (Engels en rooibos) en aanmaaksap; toiletpapier (geen toiletgeriewe; “bossies toe gaan”); en skottel en kampstorte word verskaf. 

Daar is geen geriewe om wasgoed te was nie, maar ’n skotteltjie en waspoeier is beskikbaar om iets met die hand uit te spoel. 

In die aande word rondom die kampvuur gekuier, in die oggend word die sonsopkoms waardeer, en dwarsdeur die dag die rustigheid en natuurskoon.

Stappers word in Loeriesfontein afgehaal waar veilige parkering vir voertuie is.

Ná die trek word hulle terug na hul voertuie geneem. 

Stuur ’n boodskap of WhatsApp na 073-675-2078 of besoek Op Vakansie Boerdery op Facebook vir meer inligting. 

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article