Adv. Anzel Laubscher bied eersdaags die skaakafrigtingskliniek in Kakamas aan.

Foto: Verskaf Credit: SYSTEM

Kinders van die Kakamas-omgewing het geleentheid om skaakafrigting van ’n internasionale skaakmeester, adv. Anzel Laubscher, te ontvang.

Dié skaakafrigtingskliniek wat oor drie sessies strek, is vir kinders van sewejarige ouderdom tot 18 jaar, en vind op Vrydag 10 Maart tot Sondag 12 Maart in Kakamas plaas.

Plek is vir 30 beginners met geen ervaring in skaak beskikbaar, en vir 50 intermediêre spelers, met basiese kennis en begrip van skaak.

Laubscher, ’n advokaat in die Hooggeregshof van Suid-Afrika, is sedert 1998 ’n lid van die Suid-Afrikaanse skaakspan, en het die land al in kampioenskappe oor die wêreld heen verteenwoordig.

Sy is sedert 2001 ’n afrigter vir die Suid-Afrikaanse junior span, is lid van verskeie sportorganisasies, en behoort aan die Suid-Afrikaanse Sportafrigtingvereniging.

Skaak, die enigste spel waarin Albert Einstein belanggestel het, is een van die oudste speletjies ter wêreld.

Volgens oorlewering het dit meer as 1 500 jaar gelede ontstaan toe ’n Indiese koning sy raadgewers gevra het om ’n speletjie uit te dink sodat soldate kon dink oor hoe hulle moet veg. Skaak, soos dit vandag bekend is, is glo min of meer dieselfde speletjie.

Om skaak te speel, hou verskeie voordele in.

So kan dit volgens navorsing help om intellek te verhoog, dit verbeter spelers se sosiale vaardighede en konsentrasievermoë, asook logiese denke en verskeie ander lewensvaardighede.

Skaak bevorder ook die ontwikkeling van die regterbrein (kreatiewe denke) en die linkerbrein (logiese denke).

Het jy geweet?

  • Skaak leer jou om die gevolge van besluite en optrede te oordink, voor jy dit doen.
  • Dit stel jou aan verskeie sterk emosies bloot, en help om te leer hoe om dit te hanteer.
  • Dit is vir oud en jonk.
  • Dit is ’n verpligte skoolvak in meer as 30 lande.
  • Daar is meer boeke oor skaak geskryf as oor enige ander spel of sport.
  • Gedurende die Tweede Wêreldoorlog is topskaakspelers ingespan om geheime kodes te ontleed.
  • Ná slegs drie skuiwe deur elke speler is daar nege miljoen moontlike posisies op die skaakbord.
  • Die woord skaakmat is van die Persiese woorde “Shah Mat” afgelei wat beteken die koning is dood.

Die koste vir die bywoning van die skaakkliniek is R250 per deelnemer.

Tydens Sondag se sessie sal die aanbieder teen 15 tot 20 deelnemers op een slag speel.

Bel Naomi Kemp by 072-896-3403 of Johan Scheepers by 084-609-9864 vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article