Te midde van die o.19-wêreldbeker-kriekettoernooi in Kimberley, hoë temperature én in die dae dat ’n werksessie oor die stad se watersituasie plaasvind, het die stad min tot geen water gehad nie.
Hoewel die spreekwoordelike skrif lank reeds aan die muur is wat Kimberley se watersituasie betref, word daar nou eers in sommige kringe erken dat dit nie ’n “situasie” is nie, maar ’n krisis.
In talle woonbuurte was daar van Donderdagaand af geen water nie. Die spoegseltjie hier en tien druppels daar was te min om die dalende vlak van enige watertenk aan te vul, en diegene sonder ’n watertenk sou nie eens ’n 5 liter-emmer kon vul nie.
Teen Dinsdagoggend was die enigste aksie in die waterpype van talle woonbuurte steeds die geroggel van lug.
Daelange en onafgekondigde watertoevoeronderbrekings, met vaagheid oor die werklike rede daarvoor, is nie nuut nie. Redes wat wel genoem word, is soos altyd legio, met selfs ’n “human error” as oorsaak genoem.
In die werksessie is blykbaar hard en eerlik gepraat oor die Noord-Kaapse hoofstad se waterkrisis. ’n Teenwoordige het glo opgemerk dat daar nie só gepraat moet word nie, “want dit maak ’n mens net bang”.
Dit was lank reeds tyd om bang te word oor Kimberley se waterkrisis; lank reeds tyd om te besef dat “modern, groeiend en suksesvol” nie in dieselfde asem as “sonder water” en vervalle infrastruktuur genoem kan word nie; lank reeds tyd om die menslike faktor by ’n krisis te erken. Daar is immers erken dat ’n ernstige gebrek aan instandhouding oor baie jare die rede is.
Tans word die R2,5 miljard wat aan die Sol Plaatje-munisipaliteit toegeken is om die waterstelsel oor die volgende jare op te knap, soos ’n towerstaf rondgeswaai – wat magiese toorkuns, of pure oëverblindery, tot gevolg kan hê.
Mag die gebieg, geraamtes wat uit die kas geval het, en bangwees wat in die werksessie beleef is, bydra dat mense in Kimberley ’n kraan kan oopdraai en dat helder water sterk daaruit kan vloei.

