In reaksie op verlede week se foto-onderskrif oor slaggate voor skole en die gevaar wat dit inhou, laat weet ’n inwoner van die Rietfontein-Miergebied dat die kinders van die omgewing elke skoologgend van Philandersbron en Loubos op ’n stowwerige grondpad vervoer moet word. Wanneer dit reën, oorstroom die pad en kan die skoolbusse glad nie van dié enigste roete gebruik maak nie. Hoewel kontrakteurs ’n wyle gelede boumateriaal langs die pad neergesit het om ’n brug te bou, het die bouery nie verder as dit gevorder nie. “Die kontrakteurs is missing in action, ons weet nie wat die oponthoud is nie,” sê die inwoner. “Ons wil hê hulle moet die brug klaar maak, of bekwame kontrakteurs stuur wat weet hoe om ’n brug te bou.” In April 2021 het NoordkaapBulletin ’n lesersbrief vanuit die gebied gepubliseer waarin dieselfde kwessie aangespreek is. Vroeg in 2021 kon leerlinge vir ’n hele week nie skool bywoon nie weens die oorstroomde pad. “Dit lyk of dit makliker sal wees om ’n krokodil te oortuig om ’n vegetariër te word as om die owerhede te oortuig om ’n permanente oplossing te vind,” lui die brief.

Foto: Gert Eiman Credit: SYSTEM