NovaNews

Sewe vermeende ‘Barney’ vroulike bendelede versteek glo vuurwapens in polisievangwa

Barney, oftewel George Peters, gesels Dinsdag in die hof met Chané Adams, die enigste houvrou wat nog met hom assosieer. FOTO: CHARNÉ KEMP

KIMBERLEY. – Die hof in die opspraakwekkende verhoor van George Peters oftewel Barney, vermeende leier van die Hollanders-bende in Kimberley en Kuruman, het Dinsdag gehoor dat sewe van sy “houvroue” glo vuurwapens in ’n polisie-vangwa versteek het.

Kons. Sarah Mafay  het só in die hooggeregshof in Kimberley voor regter Almé Stanton getuig.

Peters en 15 ander staar altesaam 117 aanklagte van onder meer moord, poging tot moord, geldwassery en bedrog in die gesig.  Sy mede-aangeklaagdes is Britney Arends, Stephanie McAnda, Simone Rose, Chinaaz Mentoor, Abagail Van Wyk, Chane Adams, Micheal Peters, Clive Peters, Deon May, Parmeston Mentoor, Henry Blom,  Vincent Rosen,  Tshepo Malambi, Nico Hofuza,  en Shawn Smith. Drie van hulle is op borgtog vrygelaat. Een beskuldigde, Thabo Sekapano is intussen oorlede.

Vyf van die ses vroue beskuldigdes het intussen hulself as “houvroue” van Barney gedistansieer en probeer die tatoeërmerke “Barney’s Property” op hul gesigte toe grimeer.

Luidens die akte van beskuldiging word hulle gesamentlik of individueel by verskeie bende-voorvalle tussen Augustus 2020 en Februarie 2023 in Kimberley en Kuruman betrek. Daar word beweer dat hulle inkomste uit die handel in dwelmmiddels maak, en dat vroulike lede dwelmkoeriers was.

Barney se aartsvyand is Roger Johnson, vermeende leier van die Madpacks-bende. Eersgenoemde word daarvan verdink dat hy en sy makkers op etlike geleenthede vir Johnson en sy aanhangers probeer vermoor of vermoor het.  

Op 17 Junie 2021 het Peters en ʼn paar van sy makkers in ʼn minibus na Demeon Hannie, ʼn assosiaat van Johnson, se woonstel in Roodepan gery glo met die doel om hom te vermoor.  Die mans het na bewering skote in Hannie se woonstel en aangrensende woonstelle afgevuur en die vuurwapens aan die vroue oorhandig. Die polisie het die groep voorgekeer, en die vroue in apart in ‘n vangwa gesit.

Mafay het getuig dat sy daardie aand die nagskof gewerk het. Sy en konst Gersha Keeble, haar skof-kollega, het omstreeks 22:45  ʼn oproep ontvang oor ʼn skietery by die Alice-woonstelle in Starlingstraat in Roodepan. Hulle het só parkeer dat hulle na die woonstelle kyk om enige bewegings waar te neem. ʼn Wit Volkswagen bussie het verbygery en sy het die voertuig en die bestuurder herken.

“Dit was Barney. Ons is juis op parade meegedeel om vir hom en sy voertuig uit te kyk weens berigte dat hy by skietvoorvalle betrokke mag wees.”

Hulle het die bussie agternagesit, maar dit het weggekom. Die blitspatrollie het die voertuig in Leratopark voorgekeer. Met hul aankoms is Keeble deur die ander lede meegedeel dat die sewe vroulike insittendes weier om in die openbaar deursoek te word. Die vroue het hul hande onder hul bloese ingedruk. Mafay en Keeble het hulle in die vangwa gelaai en na die Roodepan-polisiekantoor gebring. Die hekke is toegemaak en blitspatrollielede het in en om die kantoor gestaan om dit te beveilig.

Terwyl Keeble die vangwa bewaak het, het Mafay die vroue een vir een uit die vangwa gehaal om hulle in ’n vertrek in die polisiekantoor te deursoek. Mafay het McAnda en Rose in die hofsaal uitgewys as van die vroue wat daardie aand aangekeer is.

Dit was Barney. Ons is juis op parade meegedeel om vir hom en sy voertuig uit te kyk weens berigte dat hy by skietvoorvalle betrokke mag wees

Al wat Mafay op hul persone kon vind was sigarette en selfone. Sy het Keeble aangesê om in die vangwa te kyk. Toe hy sy selfoonflitslig daarin skyn het hy drie vuurwapens onder die bankie gesien. Lede van die forensiese eenheid is ontbied.

Toe Keeble en nog ʼn kollega weer in die vangwa kyk, het hulle ‘n vierde vuurwapen en ’n sak vol ammunisie daarbinne ontdek.

Mafay het getuig die skofbevelvoerder, syself en Keeble het die vangwa geïnspekteer voordat hulle met hul skof begin het, en dat geen ander mense daardie aand voor die sewe vroue in die vangwa gehou is nie.

Een van die vroue, ene Sharifa of Shakari, het glo gesê dit is haar vuurwapens toe Mafay hulle in die selle toegesluit het.

Barney en nog van sy makkers, wat nie in Leratopark deur die polisie in hegtenis geneem is nie omdat geen vuurwapens op hulle gevind is nie, het ook by die polisiekantoor aangekom op soek na ’n stel sleutels by een van die vroue.  Die polisielede het sy  en die vroue se hande ondersoek vir enige kruitstofresidu.

 Die verhoor duur voort.

You need to be Logged In to leave a comment.