’n Noord-Kaapse laaitie wat ’n rugbybal met ’n kaalvoetskop van sowat 55 m ver deur die pale gejaag het, het sosialemediagebruikers én die bekende skopafrigter Vlok Cilliers aan die gons.
Die losskakel Tiaan Muller (13), eerstespanspeler van die Laerskool Kathu, se skoptalent wat tydens ’n rugbyoefening vasgevang is laat monde oophang en skole toustaan.
Tiaan se afrigter, DP Spangenberg, het op Donderdag 9 Junie ’n video van hul laaste oefening voor die Saterdag se eindronde in die Van Druten-liga in Vryburg geneem.
Die span van Kathu het die Laerskool Seodin van Kuruman uiteindelik met 38 – 15 geklop.
Spangenberg het die aand met die toestemming van Tiaan se ma, Rachel, die video op onder meer die Facebook-groep Skolerugby SA geplaas, waar Cilliers dit raakgesien het.
Cilliers, voormalige Springbok-speler en huidige skopafrigter van Frankryk se nasionale rugbyspan, het Spangenberg die Vrydag via Facebook gekontak om te hoor of hy ook die video op die sosiale media mag plaas.
Dié video is teen die Maandag reeds meer as 26 000 keer op Cilliers se Facebook-blad gekyk en 29 700 keer op sy Twitter-rekening.
Intussen het twee skole reeds sy ma met aanbiedings van beurse vir sy hoërskoolloopbaan gekontak, en minstens nog een het navraag oor hom gedoen.
Hy weet nie hoe hy dit regkry nie, hy skop maar net. En die mannetjie stres nie wanneer hy pale toe moet korrel nie, “want ek weet ek kan dit doen as ek regtig wil”.
Hy wil eendag ’n Springbok-rugbyspeler of ’n Protea-krieketspeler word. Tiaan is baie bly oor die skole wat hom reeds met beurse genader het.
Spangenberg sê hy het self op skool geskop en sou selfs as matriekseun op so ’n skop trots gewees het.
“Die outjie het net talente wat ek nie kan verduidelik nie – hy is ’n algehele sportman. Wat wonderlik is, hy is maar net daarmee gebore.
“Ek is baie bly vir hom, ek meen dit kan dalk vir hom deure in sy loopbaan oopmaak.”
Spangenberg sê Tiaan oefen baie hard en hy glo ’n blink toekoms lê vir dié seun voor.
Travel and Sport het Tiaan as deel van die o.13-Kosh-rugbyspan op ’n toer na Ierland in Desember genooi. Hy was reeds by die span ingesluit voordat die video gemaak is. Sy ma sê hulle samel nog geld in om die toer moontlik te maak.
Sy sê haar seun blink ook uit in veldnommers soos diskusgooi en gewigstoot, asook op die krieketveld, en hy oefen regtig hard.
“Ek is verskriklik trots op hom. Hy is ’n spesiale kind, hy het ’n verskriklike mooi geaardheid. Ek is baie lief vir hom en gun hom hierdie geleenthede.”
Voor die skopvideo het ’n ander skool hom vanweë sy krieketprestasies met ’n beurs genader.
Hy was verlede jaar sy skool se bouler van die jaar.
Tiaan speel ook in die Kathu-krieketklub se junior span.
Sy broer, Ruben (15), wat tuisonderrig ontvang, speel krieket vir die Hoërskool Kathu se klubspan.


