Seun se ontdekking van talent lewensveranderend

’n Tienerjarige seun van Jan Kempdorp het omtrent ’n jaar gelede die sportsoort skopboks ontdek toe hy probeer het om gewig te verloor en sy liggaamsbou te verbeter.


’n Tienerjarige seun van Jan Kempdorp het omtrent ’n jaar gelede die sportsoort skopboks ontdek toe hy probeer het om gewig te verloor en sy liggaamsbou te verbeter.

Skaars ’n jaar later het Brandon Steyn (14), ’n gr. 8 leerling aan die Hoërskool Vaalharts, provinsiale kleure en Suid-Afrikaanse kleure in die sport verwerf.

“Brandon was op laerskool effens mollig. Hy het stut vir die skool se rugbyspan gespeel en het so net by die 70 kg geweeg,” sê Brandon se pa, Anton.

“Brandon het moeg geword dat kinders hom spot en het toe met skopboks begin as ’n manier om gewig te verloor.”

Die vegkuns, wat soortgelyk aan boks is, maar waarin die vuiste én bene gebruik mag word, bied volgens Anton uitstekende aërobiese oefening en kan ’n mens help om te verslank.

“In die eerste vier tot vyf maande het hy omtrent 15 kg verloor,” sê Anton.

Volgens Anton was daar wel terugslae, soos toe Brandon in ’n oefensessie vroeër vanjaar harsingskudding opgedoen het. Hy moes gevolglik vir drie maande skopboks opsy skuif totdat hy herstel het.

In Augustus het hy sy besonderse talent vir skopboks besef toe hy aan die Noord-Kaapse skopboks­toernooi in Kathu deelgeneem het. Hier het hy twee goue medaljes ontvang en ook provin­siale kleure verwerf.

Kort ná sy sukses in die Noord-Kaapse toernooi het Brandon op 29 en 30 September aan die Destiny-skopbokstoernooi in Stellenbosch deelgeneem, waar hy een goue medalje (volgehoue geveg) en een silwermedalje (volle kontak) gewen het.

Brandon word nou deur Sakkie Lessing van Lessing Mixed Martial Arts in Kimberley afgerig.

“My seun beoefen skaars ’n jaar lank skopboks en het reeds baie bereik. Kan jy dink hoe goed hy kan wees as hy behoorlik oefen?” meen die trotse Anton.

Volgens Anton wou Brandon in Februarie aan die Destiny-skopbokstoernooi in die VSA deelneem, maar aangesien dit ongeveer R70 000 sou kos en daar geen bystand vir atlete is nie, moes hulle eers Brandon se droom om eendag op internasionale vlak mee te ding, uitstel.

“Vir ’n ouer wat moes toekyk hoe ander kinders op my seun gepik het en hom afgekraak het, was dit vir my wonderlik om te sien watter verandering hy ondergaan het.

“Ek wil graag ouers aanmoedig om hul kinders by skopboks betrokke te kry – nie om hulle in vegters te verander nie. Maar die verskil wat dit aan ’n kind se selfbeeld kan maak is net ongelooflik,” sê Anton.

You need to be Logged In to leave a comment.